Depressie kos SA R232 miljard per jaar

depressie

Foto: Mentalhealth.com

Depressie kos Suid-Afrika meer as R232 miljard of 5,7% van die land se BBP weens onder meer lae produktiwiteit, afwesigheid van werk of werknemers wat werk terwyl hulle ongesteld is.

Dít was die bevinding van die IDEA-studie van die Londense Skool vir Ekonomie en Politieke Wetenskap in 2016.

Met Wêreldgeestesgesondheidsdag vandag is die kollig op geestesgesondheid en hoe dit mense in hul beroepe kan raak. Dr. Sebolelo Seape, voorsitter van die Psigiatriese Bestuursgroep (PsychMG), meen dat organisasies en individue meer bewus moet wees van die invloed van geestesgesondheid op die werksplek.

“Met meer as 9,7% van die Suid-Afrikaanse bevolking (of 4,5 miljoen mense) wat aan depressie ly, is die kanse redelik sterk dat die persoon wat langs jou in die kantoor sit in ʼn stadium in hul lewe met dié toestand te doen gehad het. Dit is nie net die plig van die individue wat aan emosionele gesondheidskwessies ly om dit te bekamp nie, maar ook dié van die organisasies en kollegas wat ʼn stigma daaraan laat kleef,” sê Seape.

Sy voeg by dat depressie ʼn groot invloed op produktiwiteit het wat op sy beurt werksverhoudinge met kollegas en lynbestuurders raak. “Depressie veroorsaak probleme met geheue, kan lei tot die uitstel van pligte, uiterste moegheid, konsentrasie, angs, vrees en paniek wat bydra tot werkverwante spanning, wat die produktiwiteit van die werknemer belemmer.”

Volgens Seape het die koste van produksieverlies ten opsigte van depressielyers se werkgehalte die grootste uitwerking en die verlies op die land se BBP. Op grond van ʼn wêreldwye studie is die persentasie wat in BBP verloor word die hoogste ter wêreld.

“In Suid-Afrika is van die werknemers wat aan depressie ly, geneig om gedurende tye waarin emosionele probleme ondervind word steeds te werk. Dit beïnvloed hul produktiwiteit en prestasie. Dit kan te wyte wees aan vrees om hul werk te verloor of vervreemding van kollegas of ʼn gebrek aan geestesgesondheidskennis omdat hulle nie verstaan waarom daar tydperke is waar hulle emosioneel nie sterk voel nie,” verduidelik sy.

“Selfs diegene wat nou en dan ʼn dag siekverlof neem omdat hulle emosioneel afgetakel voel, pas in wese selfdiagnose toe en hul hanteringsmeganisme trek negatiewe aandag. Daarbenewens kan hulle die ondersteuningstruktuur wat hul werkgewer bied en wat hul loopbaan en verhouding met kollegas in gevaar kan stel, verloor.”

Sy sê om ʼn paar dae af te neem en net by die huis te sit en niks te doen nie, help nie om dinge te hanteer wanneer jy teruggaan werk toe nie.

“Hoewel depressie (behalwe in ernstige, kroniese gevalle) nie ʼn gestremdheid is nie, kan dit ʼn invloed op werkslewering en ʼn impak op die daaglikse lewe hê ten opsigte van slaap, werk, konsentrasie, regulering van emosies of omgee vir jouself. Dit moet deur die korrekte kanale aangespreek word. Jy moet saam met jou mediese dokter en psigiater werk om die beste behandeling te bepaal en om jou probleemtye te bestuur, asook spesiale behoeftes wat nodig is by die werk of buigsame werksure te bespreek. Deur die probleme met ʼn lynbestuurder of mensehulpbronbestuurder te bespreek en die opsies wat beskikbaar is, kan baie angs wat verband hou met depressie in werkstyd verlig word.”

Seape meen egter die onus rus nie net op die werknemer om hulp te soek nie, maar ook op maatskappye en organisasies om na die welstand van hul personeel om te sien. “Die feit dat baie werknemers in Suid-Afrika dit nie aan hul werkgewer meld dat hulle aan depressie ly nie weens die vrees dat hulle hul werk sal verloor, is werklik kommerwekkend,” sê sy.

Die wet in Suid-Afrika bepaal dat ʼn werknemer met ʼn geestesgesondheidstoestand ʼn grondwetlike reg op gelykheid, menswaardigheid, redelike vergunning en regverdige arbeidspraktyk het. ʼn Werkgewer kan dus nie ʼn persoon afgradeer, verplaas of die salaris verminder weens ʼn geestesgesondheidstoestand nie, verduidelik Seape.

“Die Wet op Gelyke Indiensneming beskerm werknemers in die werksplek, maar slegs tot ʼn mate. Aangesien die wet nie alle voorwaardes kan lys nie, kan die werkgewer besluit of dit ʼn gestremdheid is al dan nie. Daarbenewens is die term ‘redelike vergunning’ in die wet ten opsigte van fleksietyd, ʼn stil kantoorruimte, vermindering in werkslading of verhoogde ondersteuning, ʼn breë begrip met betrekking tot ‘redelike’. Die wet kan nie vir ʼn organisasie voorskryf wat redelik is en wat nie redelik is nie. As daar ʼn werknemer is wat aan depressie ly en spesiale vergunning moet ontvang, kan die werkgewer eenvoudig sê dat hul kernbesigheid nie vir buigsame werksure toelaat nie en sodoende word dit aan die werknemer oorgelaat of hy/sy gaan bedank of wag om ‘uitgewerk’ te word.”

Seape sê ʼn benadering ten opsigte van depressie in die werksplek wat aanvaarding en openlikheid bevorder, sal ʼn ingrypende invloed hê op die verbetering van produktiwiteit, terwyl openlikheid en ondersteuning van bestuurders aan die ander kant sosiale aanvaarding sal bevorder vir diegene wat aan depressie ly.

“As depressie voortdurend gesien word as ʼn swakheid en iets wat mense doen om spesiale behandeling of af dae af te dwing, of diegene wat vrees ervaar ten opsigte van hul werk, sal die stigma wat verband hou met depressie of die gebrek aan produktiwiteit en verlies aan inkomste nie verander nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

Janet ·

Wel wat verwag julle. Met soveel wetteloosheid sal enige land se mense in depressie wees.

Chris-Mari ·

Ek stem saam Janet… die land se toestand maak almal depressief

Wiebo ·

Wat maak n mens nie depressed nie? ALLES MAAN MENS DEPRESSED…………………….

marous ·

Regstellende aksie , werkloosheid , armoede , misdaad , korrupsie , …dit veroorsaak depressie , en wie moet ons bedank daarvoor?

Kay ·

Depressie.. Is soos rugpyn .. Baie mense se hulle het dit maar dit kan nie regtig bewys word. Nie .. En mense gebruik dit om siekverlof te vat en ry op depressie se rug want as jy jou pille drink behoort jy depressie onderbeheer te he. Dit is so belangrik

Pille en brille ·

@ Kay – jy is heeltemal reg, dit is soos rugpyn. Jy kan dit nie sien nie,niemand kan dit sien of jou pyn verstaan nie. Net jy voel dit , in jou rugstring, diep in jou wese en jy steek dit weg vir ander mense en stoom voort elke dag want jy moet, jy moet eenvoudig net al voel jy jy wil net asseblief tog ‘n kans hê om te rus want jy is so moeg, so apaties, werk raak agter want jy kan nie konsentreer nie, jy stel uit, stel af, dit voel of daar ‘n stortvloed van ys bo oor jou vloei, jy sukkel om kop te hou om asem te haal, die angs raak net erger… hoe minder jy gedoen kry hoe meer angs is daar en als maak net nie meer sin nie. die beste tyd van jou dag is as jy slaap, as jy kan slaap by gesê, as jy nie in jou bed rond rol en hoop slaap oorval jou. ek is moeg, ek moet net bietjie slaap….asseblief, ek smeek vir slaap. Waneer jy uiteindelik slaap moet jy opstaan vir werk, nog ‘n dag, nog ‘n geveg om deur die dag te kom. staan jy op en doen dit maar weer.

Pille en brille ·

Hoop jy kry vandag bietjie meer gedoen as gister, want jy wil, jy wil regtig. Jy doen maar jou bes. Die pille help nie, dit is onbekostigbaar,jou medies dek nie alles nie,die newe effekte van die medikasie kry jou net so onder, jy kan nie met dit ook deal. Jy voel soos ‘n proefkonyn want jy was al op so baie verskillende kombinasies medikasie wat nooit gewerk het nie. Jy was al deur alles, op alles, by dokters en steeds… voel … jy … so…..

E ·

Ek stem saam met jou Marous. Dit is waar dat vandag se lewe net te veel geword het. Ek sukkel self so nou en dan met ń af gemoed dan klou ek vas met ń garingdraaitjie aan God. “As ek in hierdie lewe vaal, al het ek my beste probeer, en ek maak dit om eendag saam met God vir ewig te woon, dan is die lewe met al sy probleme tog die moeite werd”
Aan almal wat sukkel net soos ek en baie van julle, onthou daar is ń prys vir die wat vasklou aan God se beloftes.
Dankie Here dat U ons sal verlos van al hierdie aardse probleme en hartseer.

Kandas ·

Depressie is ‘n lewende hel! Dit is die allerverskriklikste siekte en net as jy al self daaraan gely het, sal jy weet hoe daardie hopelose, desperate swart put wat jou insluk, voel. Niemand stuur vir die depressielyer kaartjies en blomme soos met ander siektes nie. Jy ly in stilte. Dit word nie verniet kanker van die siel en “malignant saness” genoem nie. Vir elke depressielyer wat daagliks ‘n stryd stry, wil ek vandag ‘n blom gee.

m ·

Kyk hoe gaan dit in ons werkplekke. Ek dink dis die plek wat die meeste depressie veroorsaak want die druk is net altyd op sekeres om die werk op datum te hou en die res kom en gaan soos hulle wil en die base kyk dit net eenvoudig mis. Jy moet nog cope met rassisme ook. Mens raak so gatvol maar moet jou mond hou om jou werk te hou en so bou al hierdie spanning op. Se jy iets dan is jy die vark in die verhaal. Nee kyk dis rof om te oorleef in die werkplek deesdae.

Liza101 ·

Jy vat die woorde uit my mond uit! Werk onder gelooflike druk, bestuurder pak net al hoe meer op jou af sodat hy minder hoef te doen, as dit kom by die jaarlikse performance management dan kry jy geen erkenning nie. Jy as wit persoon word gebruik om al die vuil werk te doen en ons sluk dit want jy weet jy gaan nie maklik ander werk kry nie! so GATVOL!! Geen verlof word goedgekeur oor maandeinde nie, daar is reguit vir ons gese, “Tell you family not to die over month end!” WAARHEEN NOU???

Theresa ·

Ek is self n depressie lyer en glo my dit is nie maanskyn en rose nie, een dag sien jy kans vir alles more wil jy nie eens opstaan en regmaak vir werk nie, en party dae het jy al hierdie emosies in een dag en glo my daardie dag voel soos n ewigheid.

Nicolaas ·

Mense verwar stres (veral werkstres en finansiële stres) met depressie en swartgalligheid. Niemdn kan stry dat die Suid-Afrikaanse samelewing baie normale mense noop tot swartgalligheid en swak toekomsvooruitsigte. Baie mense het voortdurende druk op hulle agv werksomstandighede, geld, familie ens, dit is stres. Baie minder mense het ‘n hormonale en fisiologiese wanbalans en wanfunksionering van dele vd brein, wat psigologiese depressie veroorsaak. Mense verwar die toestande maklik, omdat hul soms so naby aan mekaar is en soms oorvleuel. Maar negatiwiteit en stres is normale aspekte van die hedendaagse samelewing, deressie nie, dis ‘n fisiologiese en psigologiese siekte, soortgelyk aan breinwanfunksie wat ontstaan agv langdurige oormatige alkohol- of dwelm inname

Linda ·

Jip ek stem saam, depressie is HEL. vra my ek is by die werk so geboellie dat ek in so ‘n diep donker gat verval het en my eie lewe wou neem. Niks en niemand maak meer saak nie, jy wil net weg uit die samelewing want wat help dit om met jou bevelvoerder te praat as hy nie ‘n bevelvoerder se agter end werd is nie. Sterkte aan almal wat aan DEPRESSIE lei. Die medikasie is baie duur en gebruik mens nie altyd jou medikasie soos jy moet nie, net om dit te spaar vir daai baie erg dae wanneer jy dit die meeste sal nodig kry.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.