Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) het ’n reusedeurbraak in die opdraande stryd teen die onwettige handel van renosterhoring gemaak toe beamptes Woensdagaand op 29 renosterhorings afgekom het.
Die renosterhoring, wat in reistasse verpak was, weeg gesamentlik 51,94 kg en het ’n geraamde straatwaarde van R6 miljoen.
’n Vrou is in hegtenis geneem in verband met dié reusevonds by ’n huis in Bedfordview, ʼn gegoede voorstad in die ooste van Johannesburg. Daar word vermoed dat die vrou deel is van ’n internasionale wildhandelnetwerk.
Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, sê die ondersoekspan het inligting opgevolg wat tydens ’n ander ondersoek aan die lig gekom het. Dié ondersoek hou verband met ’n saak in Kempton Park waar verdagtes in September verlede jaar in hegtenis geneem is vir die onwettige handel in renosterhoring asook die oortreding van die Wet op Doeane en Aksyns.
Verdere ondervraging het die ondersoekspan toe gisteraand na ’n landgoed in Senderwood, Bedfordview, gelei waar hulle op die renosterhoring afgekom het.
Mulamu sê die ondersoekers het by hul aankoms die perseel deursoek en reistasse, netjies toegedraai in plastiek gereed vir verspreiding, in die motorhuis gevind.
Die ondersoekers het die tasse deursoek en op die renosterhoring afgekom. Die renosterhoring was in foelie toegedraai. Daar was ook ander toerusting waarop die owerhede beslag gelê het as deel van hul ondersoek.
Dit sluit in agt ou skootrekenaars, vier weegskale en twee swaar saagmasjiene.
Die 48-jarige verdagte is op die perseel in hegtenis geneem en aangekla van die onwettige handel in renosterhoring en oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit (Nemba).
Die vrou sal na verwagting Vrydag in die streekshof in Germiston verskyn.
- Ander toerusting waarop daar beslag gelê is. (Foto: Verskaf)
- Van die ander items waarop daar beslag gelê is. (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
21 Kommentare
Ek wonder of hulle DNA kan vat van die horings en Renosters wat die afgelope jaar gestroop is ook kan toets en enige verbintenis maak?
Hoop sy kry wat haar toekom!
Sluit haar toe en gooi die sleutel weg.
hoop sy sit vir n ewigheid… sy verdien dit!!
Gooi haar in die tronk en gooi die sleutel weg! Kry ook die ander wat SAAM met haar werk. Sy moontlik ‘n Chinees, dis mos hulle wat ons wild so uitroei vir al die bog waaraan hulle glo.