Dié ambassades vreet die meeste belastinggeld

Die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys. (Foto: Wikipedia)

Die Suid-Afrikaanse belastingbetaler hoes jaarliks maklik tussen R66 miljoen en R102 miljoen per ambassade om ons internasionale ambassadeurs in ampswonings oor die hele wêreld te onderhou.

Dít blyk uit ʼn parlementêre antwoord deur die minister van internasionale samewerking, Naledi Pandor. Sy het die inligting verskaf in antwoord op ʼn parlementêre vraag deur Mervyn Chetty, DA-LP.

Volgens dié antwoord kos die ambassade in Genève, Switserland, belastingbetalers die meeste, teen R102 miljoen ʼn jaar. Die ambassade in Londen kos ons R94 miljoen en die een in Brussel R88 miljoen.

Die ambassades in Genève en Brussel moet onderskeidelik met ʼn string VN-instansies (Genève) en die Europese Unie (Brussel) in verbinding bly, met handelsvoordele as hoogste prioriteit.

Wat Londen betref, is daar die skakels met die voormalige koloniale moondheid, en baie inwoners van Suid-Afrika en Brittanje wat wedersyds deur familiebande heg gehou word.

ʼn Ambassade waarop Suid-Afrikaners verrassend baie geld uitgee, is die een in die Oostenrykse hoofstad, Wene (R67 miljoen). Of die handelsbande met Oostenryk dit regverdig, sal baie laat wonder.

Die Angolese hoofstad Luanda, tiende op die lys van duurste ambassades, is as een van die duurste stede ter wêreld en as politieke middelpunt van ʼn belangrike Suid-Afrikaanse handelsvennoot minder van ʼn verrassing.

Dit is egter verbasend dat die ambassade in Tokio nie ook een van die tien duurstes is nie, gegewe die omvang van handelsbetrekkinge en die lewenskoste daar.

Die tien duurste Suid-Afrikaanse ambassades per jaar volgens die jongste beskikbare syfers is soos volg:

  1. Genève (Switserland) R102,8 miljoen
  2. Londen (Brittanje) R94,6 miljoen
  3. Brussel (België/EU) R88,5 miljoen
  4. New York (VSA) R79,9 miljoen
  5. New York (Verenigde Nasies) R79 miljoen
  6. Washington, DC (VSA) R76,1 miljoen
  7. Beijing (China) R73,5 miljoen
  8. Wene (Oostenryk) R67,7 miljoen
  9. Parys (Frankryk) R66,1 miljoen
  10. Luanda (Angola) R67,3 miljoen

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Nie Verbaas ·

Bring hulle terug Suid Afrika toe. Ons wil mos geld spaar.

Charmain ·

Nie verbasend as jy sien die karre waarmee gery word en die huise (paleise) waarin gebly word…en dis net in die buurlande! En absoluut van geen waarde vir die expats in die betrokke lande nie…meestal onbehulpsaam & onvriendelik.

Pandora ·

Hiermee stem ek 100% saam, veral in ‘n land soos Switzerland wat neutraal staan teen oorlog en weier om in te meng. Bring die mense terug – ons het nodig dat hierdie geld beter aangewend word.

Wielspore ·

Familie van ons werk vir die SA ambasade in een van die Oosblok lande, ek het die grootste respek vir hierdie vrou, sy kan Russies vlot praat, het wêreld kennis wat min mense oor beskik, tree op soos ‘n regte ambassadeur.
Dan is daar natuurlik die ander sy van die saak, haar man is ‘n lid van die SA weermag en bly saam met haar in die buiteland, hy kry sy volle weermag salaris en is heeldag by die huis. Hulle seun gaan na ‘n privaat skool toe waar hy in engels onderrig word. Een keer in ‘n jaar kom hulle SA toe en gaan bly in hulle vakansie huis by die see en kuier by familie en vriende. Vliegtuig kaartjies word deur die staat betaal, wat seker reg is.
As daar in die buiteland onthaal word, word net die beste uitvoer produkte van SA opgedis, die beste drank en wyn, kreef en eksotiese kos soorte.

Pandora ·

Wel gedaan aan jou familielid wat wel haar werk doen, maar dis so jammer om dan die res te lees en te weet dat in ons land is daar hordes kindertjies wat vanaand honger gaan slaap, terwyl hierdie mense “wine and dine” op ons taksbetalers se hardverdiende geldjies.

Yolandie ·

Onaanvaarbaar dat jy lekker by die huis kan sit en ‘n salaris verdien.

Dries ·

Klink na ‘n lekker lewe! En dan het Zinzi Mandela die vermetelheid om nog vinger te wys en te kerm oor swaarkry!

Yolandie ·

Ja Dries dit kan jy weer sê. Sy geniet die prag en praal van kolonialisme…..darem lekker!. En dan is sy so ‘n verleentheid vir ons ook. Ambassedeur se VOET!!!!

Willem ·

Die elite leef soos konings en die mense krepeer – wag maar, die opstand is in aantog.

EMILY ·

Bring die blikskottels terug. Hoekom moet hulle in weelde lewe en onthaal asof daar nie n more is nie?

Elize ·

Wat is die doel van hierdie klomp wat so lekker lewe in die buiteland? Hulle het geen maniere nie en is onbeskof verby want jy word ‘n guns gedoen dat hulle jou net in hulle teenwoordigheid toelaat. Hulle is gewone mense en moet gewone leefstyle handhaaf maar nee – “ons is die room van die oes en moet net die beste kry uit die sakke van die arme drommels wat in SA sukkel om te oorleef”. Hoe durf ons kla want hulle is dan deel van die agtergeblewendes wat nou in die lig geplaas is

Magda ·

en wt doen hulle daar – Bring hulle terug want duidelik word ONS GELD weer gemors op onbevoegde mense. BRING HULLE TERUG.

Leon ·

En dan moet daar in absoluut elke land in die wereld ‘n ambasade wees.
In ons omgewing is daar ‘n ambasade. Hy is in ‘n huis, nie ‘n $10 miljoen gebou soos Suid Afrika s’n nie in die buiteland. Ek dink die regering moet ‘n bietjie kyk na die ambasades wat armer lande in Suid Afrika het. Dit is nie so uitspattig nie.

koos10 ·

Dit gaan oor off show. In ons moderne samelewing kan jy binne 24 uur op bykans enige plek in die wereld wees. As jy een ambasabe op elke vaste land het glo ek jy kan binne 12 ure op enige plek op die betrokke vasteland wees.

Ons het 69 ambassades, kom ons sê gemiddeled kos een R50mil per jaar, dan kom ons by R3 450 000 000.00 uit, en die regring wil ons pensioen vat om Eskom te red??????????????????????????
Ek het nie eers koslulate se pryse by bereken nie. Daar is nog 75 van hulle ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.