Dié Durbanse strande se water nog te vuil

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Durban-direct.com)

Terwyl Suid-Afrikaners pak vir die vakansie, bekommer hotelle aan die Durbanse kus hulle oor die onbehandelde riool wat al maande lank in die Indiese Oseaan vloei.

Hoewel die meeste van die strande oopgestel is, bly die eThekwini -, Reunion- en Umbogintwini‑strand in die stadium nog gesluit weens verhoogde vlakke van die bakterie E. coli.

Die jongste lesings op die munisipaliteit se webtuiste dui op ’n telling van onderskeidelik 24 196 en 11 199 van E. coli per 100 ml water by Reunion en Umbogintwini. Die eThekwini-strand  se telling staan tans op 1 674. Die ideale E. coli‑ telling vir water wat veilig is vir menslike gebruik, is minder as 1 eenheid per 100 ml.

Intussen is daar vrese oor die uitwerking wat die geslote strande hierdie feestyd op die gasvryheidsbedryf gaan hê.

“Die munisipaliteit het tot dusver teen ’n slakkepas gereageer,” sê Brett Tungay van die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa).

Tungay sê die geslote strande het die afgelope paar maande ’n groot impak op plaaslike oorde en hotelle gehad. “En natuurlik het dit dan ’n deurslaggewende uitwerking op al die restaurante en toerisme-aktiwiteite in die stad.”

Janet Simpkins, direkteur van die omgewingsgroep Adopt a River, sê intussen die vloede, wat in April vanjaar die lewens van sowat 400 mense geëis het, het bloot tot jare se verval bygedra.

“Rioleringstelsels en infrastruktuur is nie in stand gehou nie. Opgraderings is nie gedoen nie en so is ons hele rioolstelsel oorlaai,” vertel Simpkins.

Die eThekwini-munisipaliteit se rioolstelsel is erg beskadig tydens vanjaar se verwoestende vloede in KwaZulu-Natal.

Alle Durbanse strande is gevolglik in April gesluit nadat hoë vlakke van E. coli, ’n bakterie wat diarree, koors en braking kan veroorsaak, in die water gevind is.

Amptenare van eThekwini hou egter vol rioolpompstasies en een van die watersuiweringsaanlegte is sedertdien reggemaak.

“Die herstelwerk aan ons sanitasie-infrastruktuur vorder baie goed,” sê Msawakhe Mayisela, woordvoerder van eThekwini.

“Daar is ’n groot waarskynlikheid dat alle strande binnekort oopgestel sal word.”

Volgens Mayisela het eThekwini ná die vloede dadelik begin om infrastruktuur te herstel terwyl die publiek se gesondheid steeds prioriteit by die munisipaliteit geniet.

“Ons stad is oop vir besigheid,” sê Mayisela.

Bykomende inligting verskaf deur AFP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Sodra die haaie padgee moet jy weet…

Roek ·

Ek sal dit nooit kan doen nie , ek sluk reeds swaar waneer ek net deur riool water ry, wat nog van swem en baljaar , maar kan ‘n mens die mense werklik glo ????

Nici ·

Die mense in charge klink useless. Hoekom is daar poef in die water in die eerste plek? Durban se water was skoon toe ek daar grootgeword het in die jare wat ons nie meer mag erken dalk nie so sleg was in elke opsig nie.

Papsak ·

ONS STRANDE NOOIT SO HAAGLIK GELYK NIE IS VROT VERBY PATETIES EK SAL NIE DAAR VAKANSIE HOU NIE SORRIE

Boatsie ·

Selfde paadjie as Hartbeespoortdam wat ook een van dié plekke was om te bly; en wat het hom nou weer verwoes????

Dup ·

SA gaan nog in een groot rioolpoel wegsak.Die verval is daar vir almal om te sien.Sommiges is blykbaar tevrede om in sulke omstandighede te lewe.

Cherokee ·

Jy’s nogal reg… ongelooflik, maar dit reën tot op die see!

Gogga ·

Ag nee sies, dis naar! “Daar is ’n groot waarskynlikheid dat alle strande binnekort oopgestel sal word”….regtig? Ek sal verby hou, dankie.

Oosie ·

Ek reken dit gaan niemand keer om nat te word, visse in die see sal seker weer skuld kry..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.