Digital Vibes en Kie. se bankrekeninge bevries

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het ʼn bewaringsbevel ten bedrae van R22 miljoen bekom om bank- en beleggingsrekeninge te bevries wat met die kommunikasiemaatskappy Digital Vibes verbind word.

Die rekeninge van Digital Vibes sowel as dié van Tahera Mather, Naadhira Mitha, Suhaila Mather, Suhaila Mather Consulting (Pty) Ltd, Amods Attorneys, WT Graphics and Designs (Pty) Ltd, en Strategeewhiz (Pty) Ltd mag nou ingevolge ʼn bevel van die spesiale tribunaal bevries word.

Die bevel is Donderdag (17 Junie) aan die SOE toegestaan.

Maroela Media het vroeër berig Digital Vibes en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, is in die spervuur weens ʼn kontrak van R150 miljoen wat sy departement aan Digital Vibes toegeken het om kommunikasiedienste vir die departement te verrig.

Die ondersoekeenheid gaan ook die spesiale tribunaal nader om die kontrak as onwettig en ongeldig te laat verklaar. Dít nadat voorlopige ondersoeke reeds twee “hoogs onreëlmatige en onwettige transaksies” blootgelê het.

Tahera Mather, Mkhize se jarelange persoonlike woordvoerder. (Foto: Linkedin)

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, het Woensdag in ’n verklaring gesê die eerste transaksie het tydens ʼn verkrygingsproses in 2019 plaasgevind toe Digital Vibes aangestel is om kommunikasiedienste met betrekking tot die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te verrig.

Die tweede transaksie het in 2020 plaasgevind toe Digital Vibes aangestel is om ʼn Covid-19-bewusmakingsveldtog te reël, sonder dat daar hoegenaamd enige mededingende bod of ander verkrygingsproses was.

Volgens Kganyago was die Covid-19-bewusmakingsveldtog bloot ’n verlenging van die departement en Digital Vibes se kontrak ten opsigte van die NGV-mediaveldtog. Kganyago sê voorts dié verlenging het plaasgevind in die geval waar só ʼn verlenging onreëlmatig en onwettig was.

Die NGV-kontrak en NGV-mediaveldtog se begroting is glo benut om vir die Covid-19-mediaveldtog te betaal wat na bewering deur Digital Vibes uitgevoer is.

Die departement het R150 miljoen aan Digital Vibes betaal. R25 miljoen daarvan het na die NGV-mediaveldtog gegaan en ongeveer R125 miljoen na die Covid-19-mediaveldtog.

Die ondersoekeenheid gaan versoek dat ’n bevel teen Digital Vibes en ander relevante entiteite of individue uitgereik word sodat die finansiële verliese wat die staat weens die departement se aanstelling van Digital Vibes gely het, verhaal kan word.

Twee van Digital Vibes se grootste rolspelers, Mather en Mitha, het albei noue bande met Mkhize. Mkhize het vroeër ten sterkste ontken dat hy enigsins ʼn rol gespeel het in die toekenning van die tender, óf dat hy daarby gebaat het.

Die minister is intussen op sosiale verlof geplaas hangende die SOE se ondersoek. Die ondersoek is nog nie afgehandel nie.

Pres. Cyril Ramaphosa wag nog op ’n verslag oor die uitkoms van die ondersoek terwyl die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayii-Ngubane, tans as minister van gesondheid waarneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

I am innocent of all charges…..delay delay delay, deny deny deny.

Mariana ·

Thats how they roll. Ons is mos darem nou gewoond aan die maniere hoe hulle korrupsie werk.

Alleen Wolf ·

Hy het soos al die anc kaders sy vingers in die kasregister en gaan NIKS oorkom nie, cr se gabba

Samuel ·

Hierdie saak sal seker weer jare lank sloer. Kaders mag nie skuldig bevind word nie v

Hennie ·

En so kom die waarheid aan die lig! Verdomde parasiete! Gooi Ivermectin!

Skillie ·

Ramaposer gaan nog lank wag na hy sy Ipad aan affirmative shopping afgestaan het vir 2 min lank was hy sprakeloos verbaas dat so iets in sy land kon gebeur welkom in SA.

gpsa ·

Die word onbevoeg is ‘n kompliment vir die mense, hulle is lankal daar verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.