Dís wat jy vir ‘rockster-ministers’ se water, krag opdok

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie. (Argieffoto)r

Suid-Afrikaners, van wie al hoe meer in armoede gedompel word, het sedert 2019 miljoene rande opgedok om die land se ministers en hul adjunkte teen die ongerief van beurtkrag te beskerm.

Die DA sê pres. Cyril Ramaphosa se regering het in hierdie tyd meer as R58 miljoen betaal om gratis elektrisiteit en water aan ministers en adjunkministers se 97 huise te voorsien en veiligheidsopgraderings daar te doen.

Meer as R7 miljoen is boonop bestee aan “alternatiewe kragtoevoer” om die ligte by die land se voorste hooggeplaastes deurlopend aan te hou.

“Terwyl Suid-Afrikaners steier onder die verwoesting van die beurtkragkrisis wat die ANC-kabinet veroorsaak het, misbruik dieselfde ministers en adjunkministers Suid-Afrikaners se swaarverdiende belastinggeld om hulle te verskans teen die gevolge van dekades lange korrupsie en wanbestuur,” sê dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie.

Hy sê terwyl gewone Suid-Afrikaners groot lyding verduur, hang die “rockster-ministers” langs die swembaddens van hul luukse herehuise uit waar hulle ononderbroke krag en gratis water geniet en deur ʼn ondeurdringbare veiligheidsmuur beskerm word.

“Dit word alles gefinansier deur ʼn land waar meer as 30 miljoen mense in absolute armoede leef en elke dag deur geweldsmisdaad in die gesig gestaar word.”

Die syfers is gegrond op parlementêre vrae wat die DA gestel het as deel van sy veldtog teen die talle voordele waarvoor in die ministeriële handboek voorsiening gemaak word. Die DA het onder meer vrae gestel oor die water- en kragrekeninge vir elke ampswoning, hoeveel belastinggeld aan die installering van byvoorbeeld kragopwekkers, omsetters of sonkragstelsels bestee is, en wat opgedok is om boorgate te sink of watersuiweringstelsels by ampswonings te installeer.

“Die jongste inligting bevestig opnuut hoe die ANC die ministeriële handboek misbruik om in Suid-Afrikaners se gesigte te spoeg,” sê Schreiber.

Lede van die party het verlede week na die Bryntirion-landgoed in Pretoria, waar talle ministeriële wonings geleë is, opgeruk om teen die “ANC-elite se drink van sjampanje op die belastingbetalers se rekening” te betoog.

Die DA het ná vorige parlementêre vrae ook onthul dat die regering sowat R387 miljoen per jaar aan die salarisse van dié ministers en hul adjunkte se ondersteuningspersoneel bestee.

Die party voer aan daar is geen wetgewing wat voorsiening maak vir die bestaan van die ministeriële handboek – en die ruim voordele waarvoor dit vir kabinetslede voorsiening maak nie.

Die party versamel nou ook inligting in oor “ander vergrype” wat danksy die handboek moontlik gemaak word, sê Schreiber.

“Ons onderneem om volle deursigtigheid aan Suid-Afrikaners te gee oor die omvang van hoe hulle deur die handboek misbruik word, en gaan voort om die stryd te lei om die verkwisting en korrupsie wat die land op sy knieë gedwing het te beëindig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.