Dit is nog nie ‘allesverloren’ vir Afrikaanse tersiêre onderwys

AfriForum-Blitskonferensie-Afrikaans-01

Die program van AfriForum se blitskonferensie oor die toekoms van Afrikaans in tersiêre onderwys. Die sprekers meen dié taal is nog nie op moedverloor se vlakte nie. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.)

Die afgelope twee jaar sal gekenmerk word deur ʼn radikale afskaling van Afrikaans op hoëronderwysvlak. Dit is veral maklik om te dink die taal bevind hom nou op moedverloor se vlakte ná die konstitusionele hof se onlangse meerderheidsuitspraak ten gunste van die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) se eentalige Engelse beleid.

Tog meen talle kenners by AfriForum se blitskonferensie oor die toekoms van Afrikaans in tersiêre onderwys daar is nog baie wat gedoen kan word om die taal te behou en te bevorder op daardie vlak. Die konferensie is Vrydag by Akademia in Centurion, Pretoria, aangebied.

Prof. Theo du Plessis van Kovsies het gesê Afrikaans benodig nou taalaktivisme. “Kortweg, Afrikaans kort nou woelige mense – rebelle en helde – wat bereid sal wees om ʼn stok in die transformasiewiel te steek.”

Hy meen dat litigasieprosesse tot dusver nie werklik enige taalregte ten opsigte van waarborge vir die Afrikaanse gemeenskap tot gevolg gehad het nie.

Du Plessis meen egter litigasie is steeds sinvol, maar dit moet deel begin vorm van ʼn veel groter aktivistiese beweging vir Afrikaans. “Ons moet eenvoudig soveel moontlik belanghebbendes betrek en die volle arsenaal inspan om dié gemeenskap se outonomieë te behou en te verbeter.”

ʼn Mens moet jou ook nie blindstaar teen uitkomste van litigasie nie – hetsy negatief of positief.

“In Europa het litigasie rakende minderheidstale baie selde groot sukses, maar hierdie sake kry geweldig baie aandag in die media. Wat kan ʼn mens hiermee doen?

“Die beriggewing wat gespruit het uit die Kovsies-hofuitspraak het ʼn uitwerking op die rektor gehad; hy het erken hy het daaronder gesteier en is nou self meer positief oor die rol van Afrikaans op die universiteit. Dit is hoe litigasie beter gekanaliseer kan word, selfs al sou die uitspraak nie gunstig wees nie.”

Du Plessis het ook gesê taalaktiviste sal moet kyk hoe Afrikaanssprekende leerders en studente gekweek kan word vir skole en universiteite wat in Afrikaans onderrig. “Waar is die Refentse Morakes van die wêreld wat aanspraak daarop maak dat hulle in Afrikaans wil leer?

“Ons moet ook inspring waar die onderwysdepartement hoofde aanstel by skole waar die hoof nie eens die taal van die onmiddellike gemeenskap kan praat nie. Ek dink hier aan ʼn skool op Patterson waar die onderwysdepartement ʼn Xhosa-onderwyser aangestel het om die vak Afrikaans aan te bied.

“Toe die ouers vra maar hoe kan die departement dit doen, het die LUR gesê hulle is rassisties, maar die ouers se kommer is gegrond, want nie een van die gr. 10-leerders in daardie skool het daardie jaar die vak geslaag nie.

“Daar moet uitgehelp word in hierdie gevalle, want ons moet die regte vir Afrikaanssprekendes sterk kry en beter waarborge vir die taalgemeenskap verkry.”

Prof. Elirea Bornman van Unisa het gesê die universiteit se forum vir Afrikaans het navorsing gedoen oor hoekom studente verkies om in ʼn sekere taal by Unisa te studeer.

“Die redes waarom studente in Engels wil studeer, het hoofsaaklik gehandel oor die beskikbaarheid van Afrikaanse handboeke en artikels en die idee dat die akademiese en die Westerse wêreld hoofsaaklik Engels is.

“Studente wat verkies om in Afrikaans te studeer was egter deeglik bewus van die voordele van moedertaalonderrig. Hulle het ook Afrikaans as die simbool van hulle identiteit beskou.”

Bornman het gesê daar word dikwels aangevoer Afrikaans en Afrikaanse onderrig is nie bevorderend vir nasiebou nie, maar hulle navorsing het getoon Afrikaanse studente vereenselwig hulle nie net met hulle gemeenskap en die universiteit nie, maar ook met die land en die vasteland – veel meer as studente wat aangedui het hulle verkies om in Engels te studeer.

“Vir die toekoms van Afrikaans dink ek ons sal die taalsprekers net weereens moet oortuig van die waarde van moedertaalonderrig en hulle moet aanmoedig om Afrikaans te kies.

“Verder moet die idees van globalisme teengewerk word; buitendien glo ek die Europese Unie gaan nou baie minder Engels wees sedert Brexit.

“Voorts kan moeilike konsepte maklik in ʼn tweede taal oorgedra word as jy dit eers goed in jou moedertaal verstaan – ons ouer garde wat in Afrikaans gestudeer het, besef dit, maar daar is ʼn nuwe generasie studente wat nou studeer wat dit nie weet nie.”

Bornman het ook gesê daar sal moet erns gemaak word met die vertaling van Engelse handboeke.

“Kortom, ons sal Afrikaanssprekers moet motiveer om ʼn verskil te maak. Dit is ook nie ʼn mite dat die voete wegbeweeg van universiteite wat nie meer Afrikaanse onderrig bied nie; dit is sekerlik die grootste faktor wat mense sal laat herbesin oor ʼn beleid.”

Adv. Albert Lamey, wat Hoërskool Overvaal verteenwoordig, het tydens die konferensie benadruk ʼn professionele persoon moet ná sy of haar studie ʼn gemeenskap gaan bedien. Van die agt mediese skole in Suid-Afrika is daar nie meer een wat onderrig in Afrikaans verskaf nie.

“Vakterminologie vir sowel regte as medies word op universiteit en veral tydens ʼn persoon se voorgraadse studie vasgelê. Die student leer ook om in daardie vaktaal te dink en dit word die taal waarin die student sy beroep verstaan, sigself uitdruk en verslae lewer.

“Baie dokters moet in die platteland gaan praktiseer waar Afrikaans dikwels die eerste en tweede taal van baie mense is. Hoe gaan daardie dokter ʼn pasiënt help as sy vaktaal net in Engels vasgelê is?

“Of jy dink vanuit ʼn student, ʼn taal of die publiek se oogpunt – hoe dink jy dit bevredig ʼn mens se regsgevoel en die breër gemeenskap as Engels die enigste taal van onderrig is?” het Lamey bygevoeg.

Alana Bailey, die burgerregte-organisasie AfriForum se adjunk- uitvoerende hoof vir internasionale skakeling, taal en kultuur, het die konferensie afgesluit deur te sê daar is nog vele praktiese oplossings vir die behoud van Afrikaans.

“Terwyl dit duidelik is private hoëronderwysinstellings is die weg vorentoe, kan ons praktiese oplossings bied deur ʼn handboek te vertaal en ons gemeenskap so dien. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en Dagbreek Trust moet veral hier geloof word vir die goeie werk wat hulle in daardie opsig doen, maar dit is duidelik daar lê vir Afrikaanssprekendes nog groot werk voor op dié terrein.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

JC ·

Baie dankie, mooi so.
Hou so aan, voluit vorentoe vir ons pragtige moedertaal.

Zuri ·

Dis nou tyd dat ons hande saamvat vir ons kinders en toekomstige kleinkindeers om ons eie Privaat Afrikaanse Universiteit te bou. Die swaard sal altyd oor ons kopper hang. Al die Afrikaanse skole moet betrek word by die inisiatief. Grond met gevind word wat groot genoeg is om ‘n volwaardige universiteit te bou. My droom sal wees dat dit soos ‘n klein universiteitsdorp moet wees wat alles op het wat ‘n student nodig mag kry, van ‘n Dokter tot ‘n super mark. Dit moet nie eers vir hulle nodig wees om uit te gaan as hulle iets nodig het nie. Ons kan ander lande ook betrek. Die stuk grond moet groot genoeg wees dat ons ‘n volwaardige Landbou fakulteit ook beskikbaar kan stel aan voornemende student. Ek is seker as ons almal hande saamvat kan ons die projek loods in samewerking van almal wat lief is vir Afrikaans. Al die groot Afrikaanse konserte moet daar gehou word vir fondsinsamelings. Ek soek net ‘n plek waar ons kinders vry in Afrikaans kan studeer. Ons ouers het tonne koeksister gebak vir ons Afrikaanse droom en taal ons kan dit weer doen. Ek is seker daar is baie afgetrede dosente en professore wat hulle insette kan gee en kan help met die projek. My kind is huidiglik in Potch en ek kry heeltyd die gevoel dat ons in ons spoor moet trap of Afrikaans gaan nie oorleef op Potch nie.

Johan Grobbelaar ·

Daai plek is Orania. Gaan kyk wat al daar vermag is en jy sal verbaas wees wat al daar gebeur het en nog gaan gebeur. Moet nie n woord van die propaganda glo tot jy daar was nie. Ek glo so baie in Afrikaans en ons toekoms dat ek bereid is om van Europa na Orania te verhuis met my 11 en 5 jarige kinders. Net ons kan ons self help

Peet Schabort ·

Die weglating van ons taal by Kovsies en die gebeure by Overvaal het gemaak dat ek in Afrikaans met FNB en Standard Bank PROBEER korrespondeer rakende sake met my oorlede vrou se boedel. Skynbaar praat ek met ‘n muur maar ek sal nie bes gee.

Casper Labuschagne ·

Hoe sal ons oor ‘n paar dekades na ons eie volk se geskiedenis kyk as ons dit net in engels en met handboeke geskryf deur engelssprekendes beskou?

Die kwyn van Afrikaans op akademiese veld kan net voor ons eie voete gelê word. Nie een van die argumente vir die afskaffing van Afrikaans as tersiêre voertaal het in die geval van die onlangse afskaffing van Afrikaanse lesings by Unisa gegeld nie, maar steeds was daar nie eers die heel kleinste piepgeluid van beswaar vanaf Afrikaanssprekendes nie.

Gegewe dat ons ‘n baie klein minderheid tussen 50 miljoen mense is, sal Afrikaans nie terugkeer as dit eers afgeskaf is nie. Dus moet ons, ons eie alternatiewe instellings skep. Dit kan nie anders nie.

Futiel ·

Veg vir Afrikaans om in leë tersiêre lesinglokale te weerklink? Hoeveel keer moet ons vra: spreek eers die onregverdige keuringspraktyke by Universiteite aan. Wat baat dit om te veg vir Afrikaans, as daar kwalik Afrikaanse kinders sit om te luister? Wat baat dit as ek die voornemende studente voor my (met TPT- tellings aansienlik hoër as gekeurdes van ander kleur en taal), se trane in Afrikaans moet afdroog? Wat baat dit as niemand ondersoek instel oor die wanpraktyke vir alle keuringskursusse nie? Blaas die fluitjie hard en duidelik, vlek dit nou oop. Anders is ‘n geveg om Afrikaans, soos die Prediker tereg sê, vergeefs.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.