DNS-agterstand: ‘SAPD praat nie die volle waarheid nie’

Argieffoto (Foto: PublicDomainPictures/Pixabay)

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sal die DNS-agterstand eers teen 21 November 2022 ingehaal word. Dit is Dinsdag onthul tydens die portefeuljekomitee oor polisie se parlementêre vergadering.

Volgens inligting staan die agterstand met die toetsing van DNS-monsters en ander forensiese materiaal wat ter sprake is in sake van geslagsgegronde geweld, op 90 201.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê die agterstand het skerp toegeneem sedert 15 Mei vanjaar met die komitee se besoek aan die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria toe die agterstand vir monsters van hierdie soort misdaad 68 235 was. Die agterstand het in net meer as drie maande toegeneem met 21 266.

Cele het in Maart vanjaar erken het dat daar in daardie stadium geen chemikalieë in enige polisie-laboratorium in die land was om DNS-monsters te toets nie.

“Indien hierdie forensiese monsters nie beskikbaar is vir hofsake nie, beteken dit dat misdadigers soos verkragters vrylik rondloop en selfs vrygespreek kan word aangesien die bewysstukke wat nodig is vir ’n skuldigbevinding in hierdie soort sake, nie beskikbaar is nie. Die uiteinde is dat vroue en kinders wat die slagoffers is van verkragting, uitgelewer is aan misdadigers en dat die strafsregstelsel hulle faal.”

Groenewald sê dit help nie pres. Cyril Ramaphosa het mooi woorde en beloftes in die parlement oor die stryd teen geslagsgeweld en dat vroue en kinders beskerm moet word terwyl die agterstand by sy polisiemag se forensiese afdeling net al hoe groter word nie.

Die president sal daadwerklik moet ingryp om seker te maak dat die agterstand verwerk word om te wys dat hy nie net lippediens lewer aan die vroue en kinders van Suid-Afrika nie.

“Die probleme by die polisie se forensiese laboratoriums is lank reeds bekend en onder bespreking. Tog word daar oënskynlik niks gedoen om dit reg te stel nie en die situasie is net besig om te vererger.”

Met die portefeuljekomitee se besoek op 15 Mei is daar aan die lede van die komitee gesê dat selfs al sou die laboratoriums teen die begin van Julie vanjaar ten volle operasioneel wees, sou dit nogtans agtien maande neem om die agterstand te verwerk.

Nou is die laboratoriums steeds nie funksioneel nie en die agterstand is veel groter as op 15 Mei en neem daagliks toe. Met hierdie toename kan die agterstand twee tot drie jaar neem om uit te wis.

Elanie van der Walt, woordvoerder vir Action Society, sê hulle stem saam met die vrae wat verskeie lede van die komitee gevra het oor die werklike vordering wat gemaak word deur die Nasionale Forensiese Wetenskapslaboratoriums (NFSL) om die DNS-agterstand op te klaar.

“Daar is ook daarop gewys dat die SAPD nie dieselfde metode van verslagdoening gebruik nie, en dit maak dit onmoontlik om die vordering na te gaan. Die SAPD beskou nie die krisis oor die DNS-agterstand in ʼn ernstige lig nie. Hulle het nog slegs een keer terugvoer gegee aan die komitee, ondanks minister [Bheki] Cele se belofte in Maart om maandeliks terugvoer te gee.”

Die SAPD se voorlegging is bevraagteken deur verskeie lede van die komitee, insluitend voorsitter Tina Joemmat-Peterson wat gesê het: “Dit voel of die SAPD ons mislei. Die agterstand neem toe – dit het nie verminder nie. Ons kan nie sê dat ons vir vroue baklei en geslagsgebaseerde geweld probeer bekamp maar die sake kom nie in die hof voor nie.”

Besware is geopper oor die werklike syfers van die DNS-agterstand, asook die getal nuwe DNS-monsters wat tussen April en Augustus 2021 geregistreer is.

“Ná die SAPD-voorlegging – waar die syfers skynbaar nie geklop het nie – is vrae van die komitee oor die werklike syfers geïgnoreer. Die werklike getal kan dus enigiets wees tussen 237 000 en 300 000 sake.”

Van der Walt sê die een positiewe uitslag waaroor die SAPD kon berig is dat die staat-privaat-vennootskapskontrakte tussen twee laboratoriums afgehandel is. Die nasionale polisiekommissaris Khehla Sithole het bevestig dat Krisp, die genomika-waarnemingslaboratorium aan die Universiteit van KwaZulu-Natal in Durban, en die Sentrale Analitiese Fasiliteit by die Universiteit Stellenbosch gereed is om van 1 Oktober 2021 aan die agterstand van DNS-monsters te werk.

“Volgens Sithole kan hierdie laboratoriums sowat 5 000 sake per dag hanteer. Sodra die laboratoriums operasioneel is, sal hulle eksklusief met die agterstallige DNS-monsters werk en die NFSL sal slegs nuwe sake hanteer.”

Van der Walt sê Action Society is baie tevrede dat die regering uiteindelik staat-privaat vennootskappe met laboratoriums aangegaan het. “As die inligting korrek is, en hulle tot 5 000 monsters per dag kan hanteer, sal dit beteken dat die agterstand tegnies teen vroeg 2022 opgelos kan wees. Die vraag bly egter: Hoekom bind die polisie hom dan eers tot ʼn afhandelingsdatum van November volgende jaar? Dit veroorsaak dat ons hulle inligting bevraagteken. Wat is die werklike getal agterstallige sake? En sal hierdie staat-privaat vennootskappe werklik so doeltreffend wees as wat dit op papier lyk? Dit lyk of dit slegs die SAPD is wat die werklike antwoorde ken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tanniepetoors ·

Die SAPD-topbestuur is meesters van konkel en ook nie van gister af nie. Kyk maar net na die eerlikes wat geloop het of gedwing is om vroeg te loop. Dit spreek boekdele.

Hasie ·

Die agterstand is agv te veel lunch en tee en tussen lunch en tee tyd en rus tyd en dan word daar vir halfuur gewerk en weer tee tyd geneem en tussen teetyd en toulet routine si dan is dit huis tow gaan tyd

Hennie J ·

So belieg en bedrieg die polisiebestuur ons sterfelinge sonder om te blik of te bloos. Strykdeur voer hulle ons met perdemis en laat ons glo dit is vye.

Casper ·

Dit is tyd dat Ramaphosa besef oom met die hoed rig onherstelbare skade aan met sy arrogante houding jeens misdaad en hom afdank.Ramaphosa “you must practice what you preach”en nie leë beloftes maak nie.Nie net is DNS in chaos gedompel nie maar ook die sentrale vuurwapenregister waar duisende aansoeke nie verwerk word nie.Ek weet van mense wat al 3 jaar wag vir nuwe lisensie nadat hulle vuurwapens moes inhandig.Kluise by polisiestasies is dus vol “onwettige vuurwapens”.Reik ‘n bergingssertifikaat uit gee die vuurwapen aan die eienaar terug terwyl hy wag vir sy lisensie.Oom met die hoed skud jou kop laat jou ore jou kan wakker klap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.