Doen nou aansoek vir ʼn Wes-Kaapse skool

‘n Beampte help ‘m ouer om aansoek te doen by Woodville Primary School in Mitchell’s Plain. (Foto: Verskaf)

Ouers wie se kinders volgende jaar gr. R, gr. 1 of gr. 8 begin, kan nou al hul kinders by ʼn Wes-Kaapse skool inskryf.

Die provinsiale onderwysdepartement het Sondag in ʼn verklaring laat weet dat inskrywings vir die 2022-skooljaar geopen het.

“Die Wes-Kaapse departement van onderwys doen ʼn beroep op alle ouers wie se kinders volgende jaar met laerskool of hoërskool begin, om hul kinders voor 26 Maart vanjaar in te skryf,” lui die verklaring.

Dié provinsie sukkel jaarliks om alle leerders wat aansoek doen, betyds te plaas. Daar is ook ʼn beduidende tekort aan skole weens duisende leerders wat jaarliks uit ander provinsies na die Wes-Kaap stroom.

Aansoeke kan aanlyn of in persoon by ʼn skool gedoen word. Luidens die verklaring het die departement Vrydag reeds 52 884 aansoeke deur 16 606 ouers ontvang.

Ouers moet by ten minste drie skole aansoek doen, waarvan een die skool naaste aan hul huis moet wees. Hulle moet ook aandui watter skole hulle verkies.

Die volgende dokumente moet saam met die aansoek ingedien word:

  • Die leerder se mees onlangse amptelike rapport.
  • Die leerder se ID, paspoort of geboortesertifikaat.
  • Buitelanders se kinders moet ʼn studiepermit, ʼn bewys van ʼn aansoek vir ʼn studiepermit of ʼn polisieverklaring toon.
  • Laerskoolleerders moet ʼn inentingskaart toon.
  • ʼn Bewys van adres.

Die onderwysdepartement het ook ʼn video gemaak om ouers te help wat sukkel om aanlyn aansoek te doen. Dit kan hier gekyk word.

Die departement het ouers gewaarsku dat sou groot getalle ouers weer tegelyk op die stelsel probeer aansoek doen, soos wat Vrydag die geval was, die stelsel ʼn foutboodskap sal toon. “Ouers moet dan net die webtuiste herlaai of later weer probeer.”

Die departement het benadruk dat ouers wat eerste aansoek doen, se kinders nie noodwendig eerste geplaas sal word nie, maar dat alle aansoeke wat teen 26 Maart ontvang is, verwerk sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.