Drempel van R100 000 vir politieke skenkings wink

Argieffoto

’n Drempel van R100 000, met skenkings onder daardie drempel wat nie deur politieke partye verklaar hoef te word nie, wink in Suid-Afrika indien die Wysigingswetsontwerp op die Bevordering van Toegang tot Inligting wat tans voor die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie dien, aanvaar sou word.

Die wetsontwerp staan in die omgang as die Paia-wetsontwerp bekend.

Hoewel dit as ’n belangrike eerste stap in die regulering van skenkings aan politieke partye gesien kan word, sal die drempel ’n groot terugslag beteken vir die burgerregte-organisasies wat hulle nou al meer as ’n dekade lank vir deursigtigheid in politieke skenkings beywer.

In voorleggings voor die portefeuljekomitee hierdie week het organisasies soos die ondersoekende joernaliste amaBhungane en die organisasie Right2Know nogmaals gevra dat alle skenkings verklaar moet word, maar politieke partye, onder wie die DA-LP mnr. James Selfe, het aangevoer dit plaas ’n ondraaglike administratiewe las op sowel politieke partye as diegene wat dit uiteindelik moet polisieer.

Hy voer dus aan so ’n wetsvoorskrif sou onuitvoerbaar wees selfs al word dit in ’n wet gepromulgeer.

Die DA is onlangs verrassend genoeg gelyk gegee deur die OVK-kommissaris, mnr. Mosotho Moepya, wat tydens ’n paneelbespreking by die Open Book-fees in Kaapstad gesê het dat die OVK, wat al die skenkings sal moet monitor, nie die vermoë het om dit te doen nie.

Dit volg nadat burgerregtegroepe soos Right2Know en My Vote Counts sterk bewoorde voorleggings aan die OVK gemaak het tydens onlangse openbare insette in Kaapstad oor die uitvaardig van regulasies kragtens die Wet op die Befondsing van Politieke Partye.

Hoewel die burgerregte-organisasies meen elke sent skenkersgeld moet deur politieke partye openbaar gemaak word, het Moepya na ’n moontlike drempel van R25 000 verwys.

Politieke partye sal egter bewus wees van die basiese regsreël dat wetgewing voorrang geniet bo regulasies. As die nuwe Paia-wetsontwerp die drempelbedrag op R100 000 vasstel, sal regulasies in die Wetsontwerp op die Befondsing van Politieke Partye daardeur getroef word.

Dit is dus ’n voortgaande stryd waarvan die afloop groot gevolge vir die Suid-Afrikaanse politiek kan inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Dus sal ‘n skenker wat ‘n half miljoen wil skenk, vyf keer R100 000 skenk. Of hy laat 5 famielede elkeen R100 000 skenk. Dit is dan dieselfde bron, net verspreid…..

Johan ·

Die ANC wil weet wie skenk vir sy opposisie geld.Hy weet dit sal skenkings na oppsisie op Droog.Senkings na ANC sal op gepaste wyse beloon word.Hulle sal Nie op Hou Nie…Verstaan dit…..Nooit Nie…..Dis Nie in hul DNA Nie…..Onthou jy kon Nie met Hitler onderhandel Nie…..Die enigste weg was on hom te stop op gepaste wyse.

Leiers Soos Churchill,FD Roosevelt en Stalin het dit besef…..Waneer gaan ons tot besef Kom???!!!!!

Grassie ·

Mense sal baie geskok wees as hulle weet wie skenk vir wie geld!! Die mense wat jy dink aan jou kant is skenk onder jou neus vir die mense wat teen jou is geld! Kyk hoe is baie van ons mense deur Constand Viljoen om die bos gelei!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.