Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het gesê die botsing het vroeg Saterdagoggend in Marineweg plaasgevind. “ER24 en paramedici van Life Healthcare sowel as ander dienste het met hul aankoms op die toneel een voertuig in die middel van die pad aangetref terwyl die ander voertuig gerol het tot langs die pad.”
Volgens Bodasing is drie mans uit die een voertuig geslinger. Hulle is op die toneel dood verklaar. Twee mense van dieselfde voertuig sowel as twee mense van die ander voertuig was in die wrakke vasgekeer. Hulle is deur Metro Rescue en die brandweer met meganiese toerusting uit die wrakke bevry.
Bodasing het gesê twee mense is kritiek beseer terwyl die ander twee mense matige beserings opgedoen het. Hulle is op die toneel behandel voor hulle na nabygeleë hospitale vervoer is vir verdere behandeling.
Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.