Drie mense is dood en drie beseer in ʼn trompop botsing op die N8 buite Bloemfontein in die Vrystaat.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het omstreeks 7:30 Maandagoggend op die toneel aangekom waar ʼn bakkie en motor reg van voor gebots het. “Drie mense het reeds aan hul beserings beswyk. Twee van die oorledenes was insittendes in die bakkie.”
Volgens Vermaak was twee mense agter in die bakkie vasgekeer en moes meganiese toerusting gebruik word om hulle te bevry. Hulle is op die toneel gestabiliseer voor hulle in ʼn kritieke toestand na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas is vir verdere behandeling.
ʼn Passasier in die motor het matige beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling. Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.