Die departement van korrektiewe dienste het alle besoeke aan gevangenes by die St Albans- korrektiewe sentrum in Port Elizabeth “met onmiddellike effek opgeskort tot verdere kennisgewing”.
Drie gevangenes is dood en 25 gevangenes en vyf tronkbewaarders beseer ná ʼn mesaanval Maandag by die tronk.
Volgens bronne het die aanval in die eetkamer van die tronk begin toe gevangenes ontbyt geëet het.
Nooddienste, ʼn mediese helikopter en die polisie se honde-eenheid is na die chaotiese toneel ontbied waar meer as 20 persone beseer is.
Logan Maistry, woordvoerder van die departement, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste, Thabang Makwetla, en Zach Modise, nasionale kommissaris van die departement van korrektiewe dienste, sal die tronk besoek en later ʼn mediakonferensie hou.
Maistry het gesê die ondersoek duur voort en verdere inligting sal later bekend gemaak word.
Ek stem