Drie in hof na moord op Potch-man

Sias Willemse en sy vrou, Tobianna (Foto: Facebook)

Drie verdagtes het Maandag in die Potchefstroomse landdroshof verskyn in verband met die moord op Sias Willemse (74).

Meriam Mahlapa (20), Petrus Mahlapa (24) en Andries Mahlapa (28) is aangekla van moord en sal weer op 13 Oktober in die hof verskyn wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Die drie is Saterdag in Ikageng in hegtenis geneem. Volgens berigte is een van die verdagtes ʼn voormalige werknemer van Willemse.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekbeampte en sy span gelukgewens met die deurbraak. Hy het daarop gewys dat die polisie sal voortgaan om hard te werk om te verseker dat oortreders aan die pen ry.

Willemse, ʼn bekende oudrugby- en -krieketspeler van Potchefstroom, se liggaam is op 22 September in sy huis op die dorp gevind. Hy is met twee skietwonde in sy nek aangetref. Daar was ook verskeie dasse om sy nek vasgebind.

Willemse is beskryf as ʼn “groot rugbygees en ywerige krieketman” en ʼn ware “Potch-legende”. Hy is ʼn oud-Puk- en Wes-Transvaalse krieketspeler. Hy het ook op sy dag die Potch Dorp-rugbyklub as kranige speler op die veld verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.