Drie keer lewenslank (plus 134 jaar) vir reeksverkragter

(Argieffoto)

Die hooggeregshof in Johannesburg het ʼn 36-jarige reeksverkragter drie keer lewenslank tronk toe gestuur en toe nog 134 jaar tronkstraf opgelê.

Percy Matimba Chauke het tereggestaan op nege aanklagtes van verkragting, ses van rooftog en een aanklagte van diefstal.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, sê Chauke het tussen Mei 2016 en Julie 2017 werklose vroue geteiken deur hulle onder valse voorwendsels van ’n moontlike werk te beroof.

“Hy sou hulle oortuig dat hy hulle na ’n voornemende werwer (recruiter) neem en dan ’n plek uitwys wat naby ’n oop veld geleë is. Wanneer hulle by die veld kom, sou hy hulle met ’n vuurwapen of mes dreig, hulle verkrag en dan van hul geld en besittings beroof,” sê Mjonondwane.

“Hy het sy slagoffers daarna in die veld gelos en hulle het later langs die pad om hulp gaan vra.”

Chauke het ook partykeer vroue genader wat in die Krugersdorp-omgewing langs die pad vir ’n minibustaxi staan en wag het.

“Hy sou hulle ook met ’n vuurwapen of mes dreig, hulle na ’n afgeleë plek of die bosse in vat en dan verkrag. Hy sou hulle ook van hul besittings beroof.”

Chauke het met drie van sy slagoffers foto’s van hul geslagsdele na die verkragting geneem en hulle dan gedreig dat hy dit op sosiale media sal versprei indien hulle die polisie kontak.

Die staatsaanklaer, adv. Pakanyiswa Marasela, het dit as veragtelik beskryf.

Altesaam 10 getuies het teen Chauke getuig. Die slagoffers het ook ter verswaring van vonnis getuig hoe hul lewens deur die verkragtings beïnvloed is.

“Marasela het by die hof gepleit om nie van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslank af te wyk nie aangesien daar geen wesenlike en dwingende omstandighede was wat ’n afwyking regverdig nie.”

Marasela het ook aangevoer dat die voorvalle oor ’n uitgerekte periode plaasgevind het en dat dit nie as opportunisties beskryf kan word nie.

Die staatsaanklaer het voorts gesê Chauke het geen verantwoordelikheid vir sy dade geneem nie en verdien om permanent uit die samelewing verwyder te word.

Die hof het Chauke se gedrag as onmenslik bevind.

Die hof het ook aangevoer dat hy vroue van hul waardigheid ontneem het.

Die regter het aangevoer dat Chauke geen gewete het nie nadat hy selfs in die hof die saak probeer vertraag het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Net nommers help niks. Gee aan die gemeenskap dat hy verwyder word.

AmY ·

Sal nie gebeur nie. Hy het mos menseregte.
Meer regte as wat sy slagoffers gehad het toe hy hulle liggame misbruik het. Wat is drie leer lewenslank?
Twintig jaar?
Dan het hy seker ook al ‘n paar grade agter sy naam waarvoor die belastingbetaler opgedok het…

Anel ·

Nou wonder ek hoeveel van die tyd gaan hy uit dien? Is dit aan eenlopend of gaan dit saam lopend wees? Hy is nie veronderstel om die buitekant van die tronk ooit weer te sien nie.

Cecilia ·

Ek stem saam want nou ons belastingbetalers vir hom sorg in d “hotel”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.