Drie oomblikke ná transitorooftog vasgetrek

(Foto: SAPD)

Drie mans wat na bewering veiligheidswagte van geldbokse by ʼn winkelsentrum in Mamelodi, oos van Pretoria, beroof het, is Maandag in hegtenis geneem.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, sê die rowers het die wagte by hul transitovoertuig ingewag toe hulle met die geld uit die sentrum na die voertuig gestap het. Die rowers het vuurwapens op die wagte gerig, die geldbokse afgeneem en op die vlug geslaan.

Volgens Naidoo was die verdagtes se sukses egter baie kortstondig aangesien die Mamelodi-ingrypingstaakspan en die plaaslike honde-eenheid en stasiebeamptes onmiddellik gereageer het. “Die taakspan het die eerste twee verdagtes ʼn paar strate weg van die winkelsentrum ingehaal en vasgetrek, waarna hulle na die derde verdagte gelei is. Al drie is in hegtenis geneem,” het Naidoo gesê.

Hy sê verdere ondersoek het die span na drie verskillende huise gelei. Twee pistole is by een huis gevind, die geldbokse by die tweede huis en die wegkommotor by die derde huis. Die reeksnommers van die pistole is afgevyl, daar is met die geldbokse gepeuter en die wegkommotor is in April in Silverton gekaap.

Volgens Naidoo behoort die huise waar hierdie items gevind is nie aan enige van die drie verdagtes nie. Die eienaars van die huise word dus ook deur die polisie ondersoek.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die multi-dissiplinêre span gelukgewens met hul vinnige optrede wat tot die inhegtenisnemings gelei het. “Hierdie benadering van samewerking en die positiewe ingesteldheid van ons lede is die motivering agter die omdraaivisie van die SAPD,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hendrik ferreira ·

Mooi naam ingrypings taakmag waneer gaan daar n voorkoming taakmag wees wat hulle toespits om misdaad te stop en te voorkom voor dit gebeur?

chrisjan ·

Met ons patetiese regstelsel sal hul al teen vanmiddag uit wees op borg.

Pieter, Weskaap. ·

Dit wil voorkom of die personeel van geldtransitovoertuie SAGTE teikens is, gewapen of te nie!

INA ·

Ek is trots op diè span. Mag ons voortaan gereeld sulke positiewe berigte dmv die media ontvang…

jaco ·

Sit die geld in pick ‘n pay sakke en vervoer dit in ‘n gewone Hyundai Getz. Niemand sal weet dis eintlik geld in transit nie.

Tong innie kies ·

Hulle doen dit al lankal. Sit die geld in Gucci sakke en vervoer dit dan so… Nee wag dit was Bosassa staatskaping. Geld in transit maar nie op pad bank toe nie.

Hans ·

Knap gedaan, no nog net vir ons sê waar kom die rowers se pistole en ammunisie
vandaan?

Christine Ferreira ·

Goeie werk SAP. Die rower het sommer met pantoffels opgedaag vir sy “dag op kantoor”. Was nie van plan om baie hard te “werk” nie!!!

Schalla ·

Hoekom word die krimineel se gesig verbloem op die foto? Wys hom dat ons kan sien hoe hy lyk. More, oormore ontsnap hy uit die tronk dan moet mense mos weet as hulle hom sien hy is ‘n krimineel. Name and shame. Hy is heterdaad gevang – duidelik is hy skuldig so hoekom moet sy identiteit beskerm word?

Sê net ·

Schalla, onthou net, hy het nou meer regte as ek en jy. Ons mag hom onder geen omstandighede “skuldig” noem voordat ‘n hof dit nie gedoen het nie. Al drup die bloed van sy hande af is hy onskuldig tot die hof (maatjies) anders sê. Dis hoekom vigilantes al hoe meer word. Die system is siek.

Magda ·

Baie goeie werk dankie SAPD – Hoop net hulle gaan nou deur ons Howe lank gestraf word, anders oor n paar maande doen hulle maar net weer dieselfde.

GM ·

“…waarna hulle na die derde verdagte gelei is” – weereens ‘n bewys van hoe belangrik dit is om jou ‘vriende’ reg te kies, hahaha.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.