Twee mans van Limpopo is die afgelope naweek lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting van twee vroue in dié provinsie.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê dié swaar strawwe word deur die polisie verwelkom omdat Limpopo tans deur ʼn vlaag misdade getref word.
Solly Matsobane Matjila (28), een van die mans, is ʼn lewenslange vonnis vir verkragting opgelê nadat hy in 2015 by ʼn huis ingebreek en ʼn 23-jarige vrou verkrag het. Hy is ook ʼn verdere vyf jaar tronkstraf opgelê vir huisbraak en beskadiging van eiendom.
ʼn 41-jarige man, wie se naam in dié stadium nie aan Ngoepe bekend is nie, is ook ʼn lewenslange vonnis opgelê nadat sy stiefdogter (8) dit aan die lig gebring het dat hy haar sedert Augustus 2015 seksueel molesteer.
Percia Madimetja Rafapa (28), ʼn derde man, is 20 jaar tronkstraf opgelê vir verkragting nadat hy ʼn 25-jarige vrou wat op pad huis toe was, oorrompel, bedwelm en toe verkrag het. Hy het ook R500 kontant van haar gesteel. Rafapa is ʼn verdere 15 jaar tronkstraf opgelê vir diefstal.
“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens verwelkom die swaar tronkstraf wat aan die oortreders van seksuele misdrywe en ander misdade opgelê word. Verkragtings is veral problematies in hierdie provinsie en daarom is dit belangrik om die skuldiges aan die pen te laat ry en ʼn voorbeeld te stel,” sê Ngoepe.
Ek weet nie van sulke goed nie, maar hierdie wat so aanmekaar verkrag: is hulle altyd op “hitte”?