Drie verdagtes het Dinsdag in die Marquard-landdroshof verskyn nadat ʼn bejaarde egpaar Sondagaand op hul plaas in die omgewing oorval en aangerand is.
Gerrie Botha, veiligheidsrisiko-analis by Vrystaat Landbou, het aan Maroela Media gesê Gert van Rooyen (74) en sy vrou, Sonya (73), is omstreeks 20:30 op hul plaas Saaibult oorval.
Volgens Botha is Sonya deur die verdagtes rondgeruk, terwyl Gert herhaaldelik in sy gesig geslaan is. Die verdagtes het op die vlug geslaan nadat die egpaar se dogter uit haar kamer gekom het. Die egpaar woon reeds die afgelope nege jaar op die plaas.
Kapt. Phumelelo Dhlamini, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê die verdagtes het toegang tot die huis verkry deur ʼn venster te breek. Hulle het egter gevlug sonder om enigiets te steel.
“Hulle is die volgende dag [Maandag] in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk uit die gemeenskap ontvang het. Die verdagtes het in die hof verskyn op ʼn aanklag van huisbraak,” het Dhlamini gesê.
Volgens Botha is die verdagtes 23, 27 en 30 jaar oud.
Vir huisbraak aangekla. Weeg die breek van n venster swaarder op teen aanranding? Hoop in die regsbeding word die saak in orde gestel.
Baie dankie vir die gemeenskap se wenk. Dit wys jou: hulle is net so keelvol vir misdaad!!!