Drie vas na ma glo pasgebore tweeling ‘verkoop’

Die vrou sou glo R50 per dag betaal word. (Foto ter illustrasie: pixabay)

Die ma van ʼn pasgebore tweeling en nog twee verdagtes is aangekeer nadat die vrou glo die kinders verkoop het.

Die polisie het Woensdag inligting ontvang dat die tweelingdogtertjies – toe vyf dae oud – se ma hulle wil verkoop. Kapt. Yolisa Mgolodela, polisiewoordvoerder, sê die beamptes het die inligting opgevolg, maar die vrou het teen daardie tyd reeds die babas aan ʼn voornemende koper gegee.

“ʼn Gesamentlike taakspan van wetstoepassers het die leidraad opgevolg en is na ʼn huis op Uitenhage waar die beweerde voornemende koper in hegtenis geneem en die babas gered is,” sê Mgolodela.

Die ma en nog ʼn verdagte is kort daarna aangekeer.

“Die tweeling is in ʼn hospitaal opgeneem omdat hulle ontwater en uiters ondervoed was. Hulle sal na ʼn plek van veiligheid geneem word sodra hulle ontslaan word.”

Mgolodela sê die voornemende koper moes glo R50 per dag aan die tweeling se ma betaal sodat sy haar dwelmgewoonte kon volhou. Die vermeende koper sou ook aansoek doen vir ʼn kindertoelaag vir die tweeling en sou glo maandeliks ʼn gedeelte daarvan aan die ma betaal.

“Die drie bly in aanhouding en sal Maandag in die Uitenhage-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort.”

Hulle staan tereg op aanklagte van mensehandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Annelize ·

Eerlikwaar, ek is met stomheid geslaan…Dat God nie lankal hierdie aardbol met vuur verswelg het oor wat hier aangaan nie, kan ek nie verstaan nie.

Klipkop ·

Is dit aanvaarbaar in ‘n beskawing??? Of swyg ons maar almal saam en kyk anderpad ter wille van politieke korrektheid en verdraagsaamheid?

Sarel ·

” Ma” Volgens definisie voldoen sy nie aan die benaming
Nie. Hoekom haar dan so.noem..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.