Drie vas oor R60 m. se goudstawe  

Argieffoto ter illustrasie: SAID

Drie verdagtes sal na verwagting binnekort in die Kempton Park-landdroshof verskyn nadat 73,5 kg se goudstawe in hul handbagasie op die OR Tambo Internasionale Lughawe gevind is.

ʼn Multidissiplinêre span bestaande uit lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se doeanebeamptes en amptenare van die departement van binnelandse sake het die inhegtenisnemings gedoen nadat inligting van veiligheidsbeamptes op die lughawe ontvang is nadat ʼn veiligheidskandeerder onreëlmatige beelde in die verdagtes se bagasie geïdentifiseer het.

Volgens kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, is die drie verdagtes by die lughawe se internasionale aankomssaal in hegtenis geneem nadat hulle van Madagaskar in die land aangekom het. Hulle sou glo van hier af via Ethiopië na Dubai reis.

“Die verdagtes is ondervra en hul handbagasie is deursoek waarna daar op die goudstawe en buitelandse valuta afgekom is.” Volgens Mathe het die goudstawe ʼn geskatte straatwaarde van meer as R60 miljoen.

Daar is op die goudstawe en buitelandse valuta beslag gelê vir verdere ondersoek en die SAPD se eenheid vir georganiseerde misdaad ondersoek die saak.

“Die Valke is ook betrokke by die ondersoek en daar sal met behulp van Interpol en die owerhede van verskeie lande gewerk word om die wettigheid van die sertifiseringsdokumente te bepaal wat deur die verdagtes verskaf is asook waar die goud vandaan kom en vir watter land dit bestem was.”

Die verdagtes sal in die hof verskyn op aanklag van die onwettige handel in edelmetale en oortreding van die Doeanewet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.