Drie vas wat meisies glo ontvoer, verkrag

Argieffoto

Argieffoto

Drie verdagtes, tussen 18 en 29 jaar oud, is Donderdag in Bisho in die Oos-Kaap in hegtenis geneem nadat hulle twee meisies ontvoer en glo verkrag het.

“Die verdagtes het op ʼn man se huis in Hanover toegeslaan en hom aangerand,” het lt Khaya Tonjeni, woordvoerder van die polisie, Vrydag in ʼn verklaring gesê. “Die verdagtes het die inwoners van hul besittings beroof en ʼn onbekende hoeveelheid kontant gesteel.”

Toe die verdagtes die huis verlaat het, het hulle die twee minderjarige meisies ontvoer.

“Die saak is by die Bisho-polisiestasie aangemeld. ʼn Soektog is dadelik van stapel gestuur en die meisies is binne ʼn uur in bosse naby hul huis gevind,” het Tonjeni bygevoeg. “Die meisies het aan die polisiebeamptes gesê dat die verdagtes hulle verkrag het. Die slagoffers kon die verdagtes uitken, selfs al was dit donker.”

Die meisies is verwys vir mediese behandeling, emosionele berading en traumaondersteuning.

“Lede van die hond-eenheid is ook ontbied om die ondersoekbeamptes by te staan,” het hy gesê. “Die omgewing is gefynkam vir leidrade. Vyf persone is omstreeks 16:00 in hegtenis geneem, maar twee is later vrygelaat aangesien hulle nie positief aan die misdaad verbind kon word nie.”

Die verdagtes sal Maandag in die Zwelitsha-landdroshof verskyn op aanklag van verkragting, huisroof en ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.