Dringende mosie teen Wakkerstroom-myn ingedien

(Foto: Centre for environmental rights)

Ná toenemende en volgehoue druk van die VF Plus sal Mpumalanga se provinsiale regering ondersoek instel oor die negatiewe impak wat ʼn beplande steenkoolmyn in Wakkerstroom op die omliggende omgewing sal hê.

Werner Weber, provinsiale leier van die VF Plus, sê die party het ʼn dringende mosie ingedien wat eis dat die regering ingryp voordat die Indiese mynmaatskappy Atha-Africa Ventures met enige mynbouverwante aktiwiteite – sonder omgewingsmagtiging en plaaslike beplanningsgoedkeuring – begin.

“Die mosie is deur al die provinsiale wetgewerlede aanvaar en ʼn ondersoek sal spoedig van stapel gestuur word,” sê Weber.

Hy voer aan dat omgewingskenners reeds vasgestel het dat ʼn myn in die Mabola- beskermende omgewing ʼn verwoestende impak op nabygeleë gemeenskappe, voëllewe, wild en die ekostelsel sal hê.

“Dit bedreig ook ʼn kardinale en strategiese waterbron, een van 22 regoor die land. Dié gebied val binne die Nkangala-Drakensberg-strategiese waterbron en is gesamentlik verantwoordelik vir sowat 50% van Suid-Afrika se vars water.

Dit bestaan hoofsaaklik uit vleilande, panne en grasvelde en is ook die bron vir vier groot riviere – die Tugela, die Vaal, die Usutu en die Pongola – wat water aan ʼn groot aantal waterverbruikers stroomaf verskaf,” sê Weber.

Vorige hersonering na landbougrond deur Vusi Shongwe,  ʼn destydse LUR vir landbou en omgewingsontwikkeling, was volgens Weber foutief.

“Dit het geensins die waterbron of die omgewingsimpak in ag geneem nie. Mynbou sal nog meer skade daar aanrig.

“Die voorgestelde myn sal na bewering 1 200 ha ondergronds en 22,4 ha op die oppervlak beslaan.”

Hy meen dat daar alternatiewe plaasvervangers vir steenkool is, maar nie vir water nie.

“Water is ʼn basiese mensereg wat in Suid-Afrika se Grondwet verskans word.

“Die tyd het aangebreek om pro-aktief te raak met ʼn gesamentlike poging om die ANC uit die magsposisie te stem tydens die 2024-verkiesing,” sê Weber.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.