Die FreeMe-rehabilitasiesentrum is dringend op soek na ʼn groep maanhaarjakkalskleintjies nadat hul ma Vrydagaand op die N10, ongeveer 30 km buite Cradock, in die Oos-Kaap doodgery is.
“ʼn Motoris het die maanhaarjakkals omgery en sy vrou in Krugersdorp gebel,” het Penny Morkel, dierekliniekbestuurder by FreeMe, Saterdag aan Maroela Media verduidelik. “Sy het ons dadelik gekontak, maar teen daardie stadium was dit reeds ʼn geruime tyd nadat die ongeluk gebeur het. Die motoris kon nie vir ons GPS-koördinate verskaf van waar die ongeluk plaasgevind het nie, en omdat dit donker was, kon hy ook nie enige landmerke uitken nie.”
Volgens Morkel was die wyfie aan die linkerkant van die pad, in die rigting van Middelburg.
Die wyfie was besig om te soog, so haar kleintjies moet in die omgewing wees. “Hulle sal nie vir langer as ʼn paar dae sonder haar oorleef nie,” het Morkel benadruk. “Indien haar oorskot nie meer op die toneel is nie, behoort daar nog steeds bloed te wees. Al het iemand dalk net in die gebied verbygery en gedink dit is dalk ʼn hond wat doodgery is.”
Sy het verduidelik indien iemand net ʼn aanduiding kan gee waar die ongeluk plaasgevind het, kan hulle moontlik in daardie gebied na die kleintjies soek, omdat hulle weet hoe groot gebied die maanhaarjakkalse gewoonlik gebruik.
Kontak asseblief vir Penny Morkel van FreeMe-rehabilitasiesentrum indien jy verdere besonderhede het. Skakel 083 602 1606.
Ek hoop hulle word GOU gevind en dat hulle ongedeerd sal wees!!
Ai ekhoop OOK so! Kan Maroela dalk opvolg?
Ek kan doen met goeie nuus vandag … seblief.