Droogte: Situasie steeds benard

Skape in die Noord-Kaap word gevoer weens die uitmergelende en voortslepende droogte. (Argiefoto: Elaine Krige)

Die departement van water en sanitasie sê die regering bly verbind om die uitwerking van die voortslepende droogte op verskeie gebiede in die land te help verlig.

Die Oos-Kaap is een van die provinsies wat kwaai deurloop. Volgens die departement is ʼn rits planne reeds in werking gestel om gebiede soos Butterworth en omgewing in dié tyd by te staan.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat die huidige situasie uit die nasionale en streeksdroogte spruit wat al in 2014 begin het en wat ʼn geweldige negatiewe uitwerking op die land gehad het,” het Sputnik Ratau, departementele woordvoerder, gesê.

“Selfs al was daar sedert laat 2017 en 2018 ʼn mate van herstel in sommige dele, gaan die uitwerking selfs langer neem om om te keer omdat dit in die 2018- en 2019-somerreënvaltye laat gereën het. Daar was ook hoë temperature wat gelei het tot ʼn hoë verdampingskoers en weinig herlading van die land se waterbronne. Dit is net van die gevolge van die werklikheid van klimaatsverandering.”

In die gebied wat deur die Amathole-distriksmunisipaliteit bedien word, het die rivier by Keibrug nou opgedroog. “Die departement het verlede week water van die Wriggles-dam vrygestel en dit gaan na verwagting sowat twee weke duur vir water om Keibrug te bereik. Watertenkwaens kan dan water van die watersuiweringsaanleg by Keibrug kry,” het Ratau gesê.

Die boorgate wat in die gebied gesink is, het weens die verslegtende droogtetoestande ook nie veel opgelewer nie. “In die afwesigheid van reën en die aanvul van waterbronne, droog die grondwater ook op.”

(Argieffoto: Dept. van landbou: Wes-Kaap)

Ratau het gesê in die omgewing van Queenstown daal damvlakke steeds weens ʼn gebrek aan reën. Die Chris Hani-distriksmunisipaliteit het intussen waterrantsoenering ingestel in ʼn poging om die beskikbare water langer te laat hou.

Die nasionale departement het op sy koste watertenkwaens beskikbaar gestel.

“Die uitdagings wat die droogte meebring kan eindelik net permanent opgelos word deur die koms van broodnodige reën.”

Ratau het gesê die Oos-Kaapse regering het reeds ʼn provinsiale droogte verklaar. Die proses om te bepaal watter hulp nou gebied kan word, berus nou by die Nasionale Rampbestuursentrum wat weer uit verskeie nasionale departemente bestaan.

Die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, het weereens ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om verantwoordelik op te tree wat betref droogtekwessies. “Dit is nie ʼn onbenulligheid nie en die regering gaan op kabinetsvlak voort om die nood te verlig wat deur dié natuurverskynsel veroorsaak word,” het Sisulu gesê.

Intussen staan Suid-Afrika se gemiddelde damvlak tans op 59%, in vergelyking met 65% verlede jaar.

Só lyk damvlakke
ProvinsieHuidige damvlak %2019 %
Oos-Kaap4760
Vrystaat6675
Gauteng10293
KwaZulu-Natal5456
Limpopo5859
Mpumalanga7265
Noordwes6350
Noord-Kaap7472
Wes-Kaap5956
Totaal 59 65

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.