Dubbele lewenslank vir man wat vriendin, baba vermoor

(Argieffoto: Unsplash)

’n Man is Dinsdag in die hooggeregshof in Kimberley in die Noord-Kaap tot twee keer lewenslank gevonnis vir die moord op sy vriendin en hul 18 maande oue seuntjie.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, sê Michael Pietersen (36) is Mei verlede jaar in hegtenis geneem ure nadat die verkoolde liggame van Kantse Mokgele (18) en klein Neo Mokgele in ’n oop stuk veld naby Van Zoelenslaagte in die omgewing van Windsorton gevind is.

“Daar is bevind dat albei verskeie steekwonde opgedoen het en deur die beskuldigde verbrand is.”

Pietersen was sedert sy inhegtenisneming in aanhouding.

Volgens Kock is Pietersen lewenslange tronkstraf opgelê vir elkeen van die moorde asook ’n verdere vyf jaar tronkstraf vir dwarsboming van die gereg. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Genl.maj. Phiwe Mnguni, waarnemende provinsiale kommissaris, het speurderkonst. Zamile Mgwevu van die plaaslike polisie vir sy noukeurige ondersoek in dié saak bedank.

“Dit maak die gemeenskap veiliger om gevoellose misdadigers soos Michael Pietersen agter tralies te hê aangesien misdade teen kwesbare groepe soos ons vroue en kinders een van die belangrikste prioriteite van die SAPD is,” het Mnguni gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johannes Andreas ·

Applous vir die ondersoek beampte en staatsaanklaer wat goed as span saamgewerk het. Hierdie is sekerlik die eerste of enigste geval in ‘n BAIE lang tyd dat die moordenaar sedert inhegtenisname tot by vonnis oplegging in aanhouding bly. Geen borg. Punt. Die blitsige opvolg en arrestasie voordat die skuldige ‘wegraak’ is ‘n verdere pluspunt. Wonder bo wonder het selfs die dossier ook behoue gebly. Die moordenaar was duidelik nie ‘n KK nie. (Kader met Konneksies). Vir eens het geregtigheid geskied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.