Duisende robvrektes aan Weskus ‘wek kommer’

Talle dooie pelsrobbe is sedert September aan die Weskus gevind (Foto: Sea Search, Tess Gridley)

Die departement van omgewingsake, bosbou en vissery ondersoek die oorsaak van die dood van ’n groot aantal Kaapse pelsrobbe aan die Weskus.

Volgens Zolile Nqayi, woordvoerder van die departement, is die karkasse van robbe sedert September by St Helenabaai, Elandsbaai, Lambertsbaai en Paternoster gevind. ’n Tegnikus en wetenskaplike van die departement is reeds verlede maand gestuur om ondersoek in te stel.

Die presiese aantal dooie robbe kan in hierdie stadium nog nie bevestig word nie, maar volgens die departement is dit reeds duisende.

Volgens Nqayi is van die karkasse vir ’n nadoodse ondersoek gestuur om die oorsaak van die vrektes te bepaal.

Voorlopige waarneming wys die robbe het tekens van onder- of wanvoeding getoon (Foto: Sea Search, Tess Gridley)

“Voorlopige waarneming wys die robbe het tekens van onder- of wanvoeding getoon,” bevestig Nqayi.

Die departement het ook die staatsveearts by die Wes-Kaapse departement van landbou genader om hulle met die nadoodse ondersoeke te help. “Die staatsveearts sal ’n reeks toetse doen wat sal help om lig te werp op die oorsaak van die vrektes.”

Nqayi sê hoewel robvrektes aan die Weskus hierdie tyd van die jaar nie ongewoon is nie, is die vinnige toename in die aantal vrektes wel kommerwekkend.

“Hierdie tyd van die jaar is daar gewoonlik ’n toename in robvrektes as gevolg van natuurlike oorsake. Een van die moontlike oorsake is weens moeders wat kleintjies van die vorige broeisiklus speen, ter voorbereiding vir die volgende broeiseisoen. Die gespeende kleintjies is soms nie sterk genoeg om self te voed nie en sal dit nie oorleef nie.”

Die oorsaak van die robbe se dood word ondersoek (Foto: Sea Search, Tess Gridley)

Volgens Nqayi het amptenare egter gevind dat ouer robbe ook aan die Weskus gevrek het en dit wil voorkom asof dié robbe tekens van wanvoeding en stuiptrekkings getoon het.

“Dit is duidelik dat hierdie robbe nie gevreet het nie en daarom moontlik van die honger gevrek het. Wat egter nie duidelik is nie, is of die vrektes dan hoofsaaklik aan voedseltekorte toegeskryf kan word of dalk ook moontlik aan ’n onderliggende siekte.”

Nqayi sê daar is tans geen aanduiding of van die vrektes met die uitbreking van voëlgriep verbind kan word nie. “Die staatsveearts gaan die karkasse eerste vir voëlgriep toets.”

Weens die groot aantal vrektes werk die departement van omgewingsake saam met ander organisasies om die oorsaak van die vrektes so gou as moontlik te identifiseer, onder andere die plaaslike Dierebeskermingsorganisasie (DBV), Sea Search, SANParke en die Twee Oseane-akwarium.

Soortgelyke voorvalle is verlede jaar aan die Namibiese kus aangemeld toe sowat 7 000 robbe daar uitgespoel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pampoen ·

Die oosterse vistreilers vang al die vis uit. Dan vrek die robbe van die honger.

Snowball ·

Net so. Hulle het ‘n onversadigbare aptyt vir alles wat hier swem, krioel, loop, kruip of waggel. Alles met pote, behalwe tafels, word deur die nek gedruk.

Piet parys ·

Ek dink al die gemors wat in die see gestort word wat n invloed op hulle gehad het. Die wereld en oorbevolkte mensdom is te blameer

Great ·

Chinese visskepe het ons waters geplunder tydens die grendelstaat…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.