Durban-burgemeester en hoës hou vakansie terwyl munisipaliteit ineenstort

Mxolisi Kaunda, burgemeester van Durban (Foto: eThekwini-munisipaliteit)

Die Demokratiese Alliansie in eThekwini (Durban) het van betroubare bronne verneem dat burgemeester Mxolisi Kaunda, die EFF se Themba Mvubu, stadsbestuurder Musa Mbhele en ander senior beamptes tans in die Drakensberge vakansie hou, onder die dekmantel van ʼn strategiewe werkswinkel.

“Die burgemeester en sy entourage het besluit om vakansie te gaan hou terwyl daar massiewe wateronderbrekings in die stad is wat duisende inwoners en ondernemings in Pinetown, Chatsworth en Westville raak,” sê Thabani Mthethwa, DA-koukusleier van eThekwini.

“Die burgemeester is gereeld nie teenwoordig nie terwyl die inwoners van eThekwini hom die nodigste het. Een só voorbeeld is tydens die Julie-onluste toe die ekonomie van die stad op sy knieë gedwing is deur plunderaars, terwyl die burgemeester slagspreuke op sosiale media gedeel het ter ondersteuning van die plunderaars. Tydens die April-vloede verlede jaar, was die burgemeester nooit op grondvlak nie en was heeltemal afwesig uit gemeenskappe waar hy benodig is. Dieselfde kan gesê word oor die stadsbestuurder wat gereeld oorsee is terwyl die stad ineenstort.”

Mthethwa sê die burgemeester het verlede jaar die stad se senior bestuur na Jozini genooi – en dit is ook as ʼn “strategiese werkswinkel” beskryf. “Van die kwessies wat tydens dié ‘werkswinkel’ bespreek en opgelos is, sluit in die herstel van die stad se vervalle infrastruktuur, water en sanitasie, elektrisiteit en die vul van noodsaaklike poste. Nie een van dié resolusies is ooit ingestel nie. Dit was bloot net nóg ʼn vakansie vir die burgemeester en beamptes en ʼn mors van belastingbetalers se geld.”

Die burgemeester se “uitstappie” na die Drakensberg is ʼn “klap in die gesig van inwoners en ondernemings wat aksie van Kaunda vereis oor die krisis waarin die stad verkeer”. “Die DA maan alle politieke partye om die DA se mosie te ondersteun om die stadsraad te ontbind sodat die inwoners ʼn nuwe geleentheid kan kry om ʼn nuwe leierskap te verkies wat die stad sal herstel en seker sal maak dinge word gedoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.