Duur Covid-19-‘wondermiddel’ vergaan in SANW-stoor

Medikasie vir Covid-19 word in ‘n inloop-yskas gestoor. (Foto: Verskaf)

Sowat ʼn miljoen dosisse van ʼn sogenaamde wondermiddel teen Covid-19 word reeds sedert April verlede jaar in ʼn verkoelde weermagstoor in die weste van Pretoria geberg. Luidens beriggewing het die weermag dit onwettig ingevoer en die produk is nie in Suid-Afrika geregistreer nie.

Rapport het die afgelope naweek berig dat sowat 40% van die besending reeds tot niet is omdat ʼn deur van die koelkamer waarin dit geberg word, glo oopgelaat is. Die weermag het egter kort ná die berig verskyn het, ontken dat dit die geval is.

ʼn Voorlopige verslag van die ouditeur-generaal (OG) wat tans vir kommentaar by die weermag en die departement van verdediging is, bevat egter foto’s wat wys dat die verkoelingsketting wel aangetas is en dit verwys ook na sowat 40% van dié medisyne wat daardeur geraak is. Maroela Media het dié verslag onder oë gehad.

Kubaanse medici by die lughawe in Havana, Kuba (8 Junie 2020) (Foto: Ismael Francisco/Pool via AP)

Daar is verlede jaar wyd berig oor die antivirale middel, Interferon alfa-2b, wat die weermag teen sowat R300 miljoen uit Kuba ingevoer het sonder om vooraf die vereiste toestemming by die beheerliggaam vir gesondheidsprodukte (Sahpra) te kry. Die middel word in Kuba deur die Center for Genetic Engineering and Biotechnology of Havana onder die naam Heberon Alfa R vervaardig.

Die militêre bevelsraad van die SANW het Donderdag in ʼn verklaring gesê Heberon Alfa R is as ʼn noodmaatreël aangekoop nadat Covid-19 verlede jaar in die land uitgebreek het.

Luidens die verklaring is samesprekings onder meer met die Kubaanse en Chinese weermag gevoer en objektiewe data het getoon dat daar by meer as 8 000 gevalle in Kuba, Pakistan, Iran, die Oekraïne en Brasilië ʼn verbetering was nadat die middel gebruik is. Heberon Alfa R verskaf egter slegs verhoogde beskerming teen Covid-19 en longontsteking kan byvoorbeeld nie daarmee behandel word nie.

“Die SANW het pro-aktief opgetree omdat dit algemeen aanvaar word dat die weermag die laaste verdedigingslinie in alle lande is,” sê die weermag se woordvoerder, lt.kol. Hamilton Ngubane, in die verklaring.

Interferon alfa-2b word vir sekere kankers en virussiektes soos hepatitis B voorgeskryf, maar die Kubaanse produk is glo in daardie land met groot sukses vir die behandeling van Covid-19-pasiënte gebruik.

(Argieffoto: SJ Objio/Unsplash.)

Die Kubaanse sentrum se streekbestuurder vir Afrika en die Midde-Ooste, Ana Blanca Torres Minkova, het uit Havana aan Maroela Media gesê dat die sentrum bewus is dat Heberon Alfa R nie in Suid-Afrika geregistreer is nie en dat die owerhede nie die gebruik van die middel vir Covid-19-pasiënte aanbeveel nie. Sy wou nie verder uitwei oor die onderhandeling nie.

Die middel is nie deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir gebruik teen Covid-19 goedgekeur nie en ook nie by Sahpra geregistreer of plaaslik aan kliniese proewe onderwerp nie.

Volgens die OG se voorlopige verslag het die weermag die middel juis ingevoer om dit as deel van kliniese proewe op weermaglede met Covid-19 te toets, maar ook daarvoor is nie vooraf toestemming by Sahpra verkry nie.

Die weermag voer egter in sy verklaring aan dat die militêre gesondheidsdiens ʼn seksie 21-aansoek by Sahpra ingedien het om toestemming te kry om die middel te gebruik en dat die aansoek in Oktober verlede jaar goedgekeur is “vir die doel waarvoor aansoek gedoen is”.

Die OG se verslag maak ook melding van die betrokke seksie 21-aansoek, maar spesifiseer dat Sahpra slegs goedkeuring gegee het om Heberon Alfa R op ʼn enkele lid van die weermag te gebruik en dat tien van die sowat een miljoen dosisse wat aangekoop is, gebruik is om die weermaglid te behandel.

Arfgieffoto

Die OG sê militêre amptenare het feitlik elke wet wat die invoer en registrasie van medisyne in Suid-Afrika beheer, verbreek en dat slegs sowat 6% van die onwettige besending genoeg sou wees om die proewe uit te voer, sou dit wel goedgekeur word. Dit kom dus daarop neer dat byna 900 000 dosisse te veel óf vir ander onbekende doeleindes aangekoop is.

“Die hoeveelhede is doodeenvoudig absurd,” sê die DA se skaduminister van verdediging, Kobus Marais.

“Die DA is kwaad en onvergenoegd oor die ongedissiplineerde wyse waarop die militêre bevelsraad opgetree het. Hulle het doelbewus en soos rampokkers Kubaanse medisyne onwettig in die land ingesmokkel, aan boord van die gehuurde SAL-vlug wat in April met die Kubaanse mediese span op die Waterkloof-lughawe geland het om die departement van gesondheid tydens die Covid-19-pandemie by te staan.”

Die OG het bewyse van minstens drie besendings van die middel gevind, maar die weermag het feitlik geen invoerdokumente vir die oudit beskikbaar gestel nie. Die grootste deel van die R300 miljoen-rekening vir die invoer van die middel is ook nog nie betaal nie. Maroela Media het betroubaar verneem dat geen afdeling in die weermag tans verantwoordelikheid vir die aankoop en die uitstaande rekening wil aanvaar nie.

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het vroeër aangekondig dat sy ʼn onafhanklike paneel aangestel het om die verkryging en aankoop van die ongeregistreerde medisyne te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

MakersMark ·

Uitstekende transformasie. Verlore, vernietig, werk nie, of dis teenwetlik in ontvang geneem.

Mallie ·

Soos gewoonlik onwettig. Alles waaraan die ANC en hulle trawante se hande raak is korrup.

KB ·

Hierdie regering se skelm/onwettige spaarwiel het ook nou afgeval.

twaalfboor ·

As niemand aanspreeklikheid wil aanvaar nie, hou dan die hoof van die SANW aanspreeklik. Hy is tog die Rekenpligtige Beampte volgens die PFMA. Maklik genoeg. Hoekom moet alle ongeruimdhede altyd gekompliseer word?

Casper ·

Maar ivermektien wat wel doeltreffend is teen die virus mag nie gebruik word nie maar die weermag smokkel middels in wat ook nie in SA goedgekeur is nie.Waar trek hulle die Streep.

Francois Le Cochon ·

Moontlik doeltreffend Casper, nog geen konkrete bewyse. Dit wat op facebook en ander sosiale platforms is tel nie as bewyse nie.

Corne123 ·

Ha ha ha da maak en my broek nat van die gelag ge sommer dei koruptes wat als wil toesmeer van die 40% ha ha ha slim vang sy baas

Persheks Adri ·

R300 miljoen rand! Hel, dis lekker in Suid-Afrika. Nog ‘n paneel is aangestel om dit te ondersoek mmmmmm hoeveel gaan dit kos? Alles onwettig met die klomp gggmmmfff

Francois Le Cochon ·

Die paneel gaan die belastingbetaler R500 miljoen kos.

Mariana ·

Nee wragtig woorde ontbreek. SA dokters sit werkloos, Kubane word ingevoer en dan boonop word medikasie wat mense lewens kan red ook nog verberg en niemand wil verantwoordelikheid vat nie. Soos klomp kleuters is die antwoord ook net ‘Issie my skultie’. Die land is geruïneeer deur die regering en daar is niemand wat beheer wil vat en hulle verwyder nie. Wat het deKlerk en sy vriende besiel om die land vir hulle te gee??? Wat????

SomeOne ·

omdat hy geweet het dat as die k…. die fan strike, klim hy op die vliegtuig griekeland toe

Sarel ·

Dir Weermag gaan die Weermag ondersoek?
Due Korruppsie duur maar net voort

Nie Verbaas ·

Ek verstaan nou nie. Die minister het nou n ondersoek geloods maar die produk is sonder toestemming verlede jaar April verkry. Hoe weet sy nie wat aangaan as minister nie? Wat doen die minister nou eintlik om haar salaris te verdien?

Hendrik ·

Korrupsie en nogmaal korrupsie!!!
En so doen die minister of president niks!!!

Riette ·

Die onwettige dom verkwistende besluite hou net nie op nie! Maar toemaar swart entrepreneurs is waarskynlik in die proses verryk. Ongelooflik!

annie ·

Ons weet nou waar’s die moeti. Waar is die Kubaanse dokters? Is hulle darem al benut of nog in kwarantyn in vyfsterhotelle?

Fritz ·

Oor n paar maande van nou af lees ons soortgelyke berigte oor die entstof. Teen daai tyd is heelwat mense al met daai spesifieke lot entstof ingespuit. Maar hardloop sal hulle hardloop om in die entstof ry te gaan staan.

Jacobus ·

Miskien die spul, minister inkluis, in Invermectin te dip.

Annette ·

Ondersoek, ondersoek, ondersoek…. Dis al wat altyd gesê word en niks word gedoen nie! Op die ou end sal dit seker weer die belastingbetalers wees wat moet opdok. Hierdie spul is erger as n swerm sprinkane inn oesland – verwoes alles wat voorkom.

Sarel ·

Die Geagte Minister weet nie daarvan nie?? Maar niemand sal.ooit verantwoordelikheid neem.nie

pieter ·

Lag wekkend , nog steeds is die anc in beheer en dons alles op , wanneer gaan die massas besef die manne kan nie perform nie ??.

Kobus ·

Die massas keer vir hul huise en “grants” – hulle sal niks doen nie!

Lolllie ·

My vraag is hoe is die Kubaanse dokters ingevlieg om te help met die Covid gevalle asook te ondersteun met die ontwikkeling van ‘n entstof verlede jaar maar hul bring sommer entstof saam op die vlug. Dit wil sê gaan soek die persoon wat toe al ‘n entstof gemaak het om die populasie te verminder. Staan dit al solank in ‘n verkoelings yskas geberg terwyl almal kwansuis wag vir nog ‘n lot entstowwe wat wetiglik ingevoer gaan word binnekort…Welkom in SA…hallo ANC mees korrupte skepsels. Ek raak sommer opgewonde.

Francois Le Cochon ·

R300 miljoen vir onwettige medisyne wat nie gebruik kan word nie. R413 miljoen vir die ontsmetting van skole wat leegstaan. R300 miljoen vir die bou van ‘n Tegnologie Universiteit deur Solidariteit. Wat meer kan ek se^.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.