Duur juwele gebuit tydens sakeroof

Die rooftog het omstreeks 09:30 plaasgevind (Foto: Rusa, Facebook)

Peperduur juweliersware is Sondagoggend tydens ʼn gewapende rooftog by ʼn winkel in die Gateway-winkelsentrum in Umhlanga Ridge, KwaZulu-Natal, gebuit.

Volgens kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het vyf gewapende mans omstreeks 09:30 op die Mont Blanc-winkel, wat onder meer duur juweliersware verkoop, toegeslaan.

Die mans het ʼn hamer gebruik om glaskaste mee oop te breek en die juwele te steel [Foto: Rusa, Facebook]

“Die mans het ʼn hamer gebruik om glaskaste mee oop te breek. Hulle het duur juweliersware – soos horlosies – en duur sakke gesteel,” sê Mbele.

Skote is afgevuur net voordat die verdagtes van die toneel gevlug het. Volgens Mbele is geen beserings aangemeld nie.

“Die verdagtes het in ʼn silwerkleurige Mercedes-Benz van die toneel gevlug.”

Die waarde van die gesteelde goedere is nog nie bekend nie.

Die polisie was op die toneel en ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Dit is die oorsaak van swak polisie diens, die polisie is ook baie keer betrokke.

Christine ·

Die samelewing van entitlement, waar jy maar kan vat wat jou nie toekom nie en waarvoor jy nie gewerk het nie. Geen morele kode om vir die samelewing iets positief by te dra nie, maar net misnoeë te verskaf aan andere vir jou eie selfsugtige gewin. Dis die tipe mense wat hierdie goed doen.

Misky ·

Waar is die sekuriteit by hierdie winkelsentrums? Die oomblik as daar iets gebeur, kan daar alarm gemaak word en alle uitgange blokkeer word. Hierdie spesifieke winkel is nie op die buitekant van die sentrum nie, maar dieper in die gebou en daai ouens hardloop verby heelwat winkels om uit te kom. Huur van winkels in sentrums is vrek duur en ek sou aandring op beter sekuriteit as ek dit moes betaal.

Marcello ·

“n Vriend van my is met ‘n “screwdrywer” in die bors gesteek by ‘n bekende Handelsbank, die sekuriteit het weggehardloop, ivm om op te tree, ( en daar was net 1 krimineel) ………………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.