Eben bly om Bokke te lei

Eben Etzebeth tydens Vrydag se kapteinoefensessie op die Mount Smart-stadion in Auckland. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Eben Etzebeth sal die Springbokke in die Rugbykampioenskap-kragmeting teen die All Blacks in Auckland op die veld lei.

Die 31-jarige slot se deelname aan die toets was vandeesweek in die weegskaal ná die nuus van sy pa, Harry, se dood.

Etzebeth het Vrydag die septer geswaai tydens die tradisionele kapteinoefensessie vóór ʼn toets en Zeena Isaacs (Springbok-mediabestuurder) het aan AFP bevestig dat hy sal speel.

Maroela Media het vroeër berig dat dit ʼn baie emosionele tyd vir die veteraanspeler van 110 toetse is omdat hy ʼn baie hegte band met sy pa geniet het.

All Black-afrigter Ian Foster het intussen meegevoel met Etzebeth betuig, terwyl Sam Cane (kaptein) ook gesimpatiseer het.

“Dit is ʼn moeilike week vir Eben en sy familie. As ʼn span wil ons ook graag meegevoel met die Etzebeth-familie betuig. Dit moet baie taai vir hom wees om nou aan die ander kant van die wêreld te wees,” het Cane gesê.

Hy weet egter dat Etzebeth sy beste in die wedstryd sal gee.

“Ons sal mekaar by die muntopskietsessie sien en dan mekaar die stryd op die veld aansê.”

Dit is die 13de keer in Etzebeth se loopbaan dat hy die Springbokke in ʼn toets aanvoer en hy is ongetwyfeld die speler wat die Suid-Afrikaners se vuur in die enjinkamer stook.

Hy is nou aan die stuur van ʼn Bok-span wat met sterspelers soos Cheslin Kolbe, Steven Kitshoff, Duane Vermeulen, Malcolm Marx en RG Snyman spog.

“Eben is ʼn baie ervare speler wat met meer as 100 toetse agter sy naam spog, terwyl hy ook al vantevore die kapteinskaparmband gedra het. Hy is ongetwyfeld die geskikte persoon om die span aan te voer,” het Jacques Nienaber in aanloop tot die kragmeting gesê.

Hy sal ongetwyfeld hulde aan sy pa met sy spel wil bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Althes ·

Sterkte aan hom en sy geliefdes in die donker tyd. Ek is bly dat hy die Bokke gaan lei Saterdag. Hy kan die wedstryd aan sy oorlede pa opdra.

Blikkies ·

Ek betuig my meegevoel aan Eben en sy familie. Ek glo sy besluit om te bly en die Bokke te lei sal hy beslis opdra aan sy Pa. Sterkte ou Grote.

Tanya ·

As dit nie “dedication” is nie, dan weet ek nie wat is nie! Sterkte aan Eben en sy familie in hierdie donker en hartseer tydperk!

Adriaan ·

Uhm, ek dink sy hele familie ondersteun sy besluit….Suid Afrika het hom ook nodig

Johan ·

Hy het reeds afskeid geneem voor hy op die vlug na New Zeeland geklim het. Kom ons respekteer sy besluit.

JvR ·

Dit gaan nie oor afskeid nie. Dit gaan oor ondersteuning wanneer sy ma dit nodig het.

Zoey ·

Toe my Pa oorlede is, was my man ook weg. Maar ‘n mens kom daardeur, daar is tog ander familie lede wat kan bystaan. Ek is ook seker dat sy Ma verstaan en selfs aangedring het dat hy daardie wedstryd vir sy Pa moet speel. En aangesien verassing die meeste van ons se besluit is, wel, dit neem ook ‘n rukkie. Ons het 3 weke gewag vir my Pa se as, en teen daardie tyd kon my man by die huis wees. Moenie oordeel as julle nie weet wat hy en sy familie besluit het nie. Dis tog hulle keuse

Daleen ·

Delia Jy weet nie hoekom hy die baie persoonlike besluit geneem het nie. Het sy ma hom miskien gevra om die wedstryd te speel en aan sy pa op te dra? Dis sy keuse niemand kan hom oordeel nie.

kommentaar ·

As ek die Nieu Zeelanders is is ek Baie bang. n Gewonde man is bitter gevaarlik

Wit Leeu ·

Dit is nou ‘n yster ! Alle sterkte vir jou en die familie deur die donker tyd. Speel vir jou pa Saterdag ! Die hele land is saam met jou Eben !

Patch ·

My meegevoel aan Eben en sy familie. Ek hoop hy sal die wedstryd aan sy pa opdra. Ek glo sy pa sou wou hê dat hy Saterdag speel want hy weet watter yster sy seun is. Sterkte Eben.

kragaap ·

‘n Kaptein verlaat nooit sy pos tot die taak nie voltooi is nie. Eben lei van voor af. Wat ‘n rolmodel en voorbeeld.

JohanR ·

Dit gaan ‘n bielie van ‘n dag, en wedstryd wees. Groot respek Eben en span, en weet daar is een trotse Pappie saam met Eben op daai veld.

Waarnemer ·

Eben sterkte aan jou en jou familie.SA staan Saterdag bankvas agter julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.