Een broer sterf, nog een veg om sy lewe ná ongeluk

Nicky en Michael Pretorius. (Foto: Verskaf)

Hulle was broers. Boesemvriende. Onafskeidbaar.

Nou het ʼn motorongeluk die lewe van die 22-jarige Nicky Pretorius geëis, terwyl sy jonger broer, Michael (21), steeds in ʼn hospitaal om sy lewe veg.

Albei is oudleerders van Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark.

Hulle pa, ook Nicky, sê sy oudste seun is Donderdag in ʼn hospitaal op Sasolburg in die Vrystaat dood nadat hy en Michael die vorige aand in ʼn ongeluk op die R57 betrokke was.

Michael is steeds in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal. Hy is aan lewensondersteunende masjiene in die waakeenheid van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gekoppel nadat hy Vrydag ʼn terugslag beleef het.

Albei sy bene is tydens die ongeluk gebreek en die moontlikheid bestaan dat sy linkervoet geamputeer sal moet word.

Blomme ter herdenking van Nicky Pretorius op die ongelukstoneel. (Foto: Verskaf)

Die broers was verlede Woensdag van ʼn restaurant in Sasolburg na hul huis in Vaalpark op pad toe hulle net voor 22:00 teen ʼn boom langs die R57 gebots het. Michael was agter die stuur. Die presiese besonderhede rondom die ongeluk is egter nog onduidelik.

Nicky jnr. het onder meer ernstige kopbeserings opgedoen en is op die ongelukstoneel reeds op lewensondersteunende masjiene gelaas. Hy is die volgende oggend in die Metsimaholo-distrikshospitaal op Sasolburg breindood verklaar.

Michael was aanvanklik in die wrak van die motor vasgekeer en moes met behulp van hidrouliese toerusting losgesny word.

Hy is ná die ongeluk nes sy broer in die Metsimaholo-distrikshospitaal opgeneem voordat hy later na ʼn hospitaal op Kroonstad en toe na Bloemfontein oorgeplaas is.

“Hulle was soos ʼn tweeling. Onafskeidbaar,” vertel hulle pa oor sy geliefde seuns.

Wyle Nicky het voor sy dood as bestuurder by The Bar with No Name op Sasolburg gewerk.

“Nicky was ʼn saggeaarde, hardwerkende, liefdevolle, familie- en vriende mens. Hy was spontaan en het ʼn passie gehad vir diere en besigheid,” vertel Nicky snr.

Michael is die bestuurder van Nuthouse op Sasolburg. “Hy is ʼn spontane en hardwerkende familiemens. Hy is baie gewild onder sy vriende en baie lief vir sy medemens.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chavonne ·

dit is so hartseer, ons bid vir hulle. ons almal in Sasolburg en Vaalpark trek ‘n laer om hulle!

Roek ·

Ai dit is baie erg , Sterkte vir die familie, die paaie is baie gevaarlik !

Nettie ·

Sjoe. Dis ontsettend. Ons bid vir sy herstel en die familie se berusting en vrede. Mag God julle hierdeur dra. Sterkte.

Melli ·

So jammer om te hoor, baie sterkte vir di familie rn naasbestaandes, RIV Nickey en mag jesus se engele waak oor jou boetie, baie sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.