Een man is Sondag dood en ʼn ander persoon beseer toe hulle beheer verloor het oor die voertuig waarmee hulle gereis en in ʼn rivier langs Inandaweg in Springfield Park in Durban beland het.
Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê toe hulle by die toneel aankom, was die motor reeds onder water.
“Die bestuurder, vermoedelik in sy twintigs, het erge beserings opgedoen en daar was niks wat ons vir hom kom doen nie, hy is op die toneel oorlede,” het Jamieson gesê.
Die passasier is matig beseer en reeds op die toneel gestabiliseer.
“Ná hy eers gestabiliseer is, was daar ʼn reddingsoperasie om hom uit die rivier te bring deur die polisie se soek-en-reddingspan en die brandweer. Toe hy by ʼn ambulans uitkom, is hy onmiddellik na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas.”
Die omstandighede rakende die voorval is in dié stadium nog nie bekend nie.