Een doodgeskiet ná rooftog by Centurion-sentrum

Een van die rowers is in ‘n skietery met die polisie dood. Sy vier makkers is nog soek. (Foto: X)

Die polisie het ʼn gewapende rower doodgeskiet en is op die spoor van vier ander nadat hulle Woensdagmiddag die Ackermans-winkel in die Saxby-winkelsentrum in Eldoraigne, Centurion, beroof en weggejaag het.

ʼn Klant is tydens die rooftog gewond.

Supt. Xolani Fihla, woordvoerder van die Johannesburg-metropolisie (JMPD), sê ooggetuies op die toneel van die rooftog kon ʼn gedeeltelike registrasienommer van die silwer Toyota Corolla waarmee die rowers gevlug het, aan polisiebeamptes verskaf.

Lede van die JMPD het hulle daarna op die M1-Suid opgespoor en het op die uitkyk gebly vir die voertuig met vyf mans. Die voertuig is opgemerk en beamptes het dit agternagesit.

“Nadat hulle probeer het om die verdagtes se voertuig voor te keer deur hul blou ligte en sirenes aan te skakel, het die verdagtes op die beamptes begin vuur en weggejaag,” sê Fihla.

Dit het tot ʼn hoëspoedjaagtog aanleiding gegee.

URGENT ALERT: Incident at M1 South Freeway & Marlboro ????Situation Update:Suspects conducted a robbery at Ackermans…

Posted by TRT Security on Wednesday, May 8, 2024

Die verdagtes het die Marlboro-afrit geneem en op die Ou Pretoria-pad verder gejaag waar die bestuurder van die wegkommotor beheer oor die voertuig verloor het. “Desondanks het hulle steeds op die beamptes gevuur terwyl hulle die voertuig agtergelaat het,” sê Fihla.

Een van die rowers is in die oor-en-weer-skietery gewond. Paramedici het hom kort daarna op die toneel dood verklaar. Sy vier makkers het die polisie egter ontwyk.

“Die polisie het op die toneel beslag gelê op twee vuurwapens waarvan die reeksnommers verwyder is. Selfone wat by die Ackermans-winkel geroof is, is ook in die verdagtes se voertuig aangetref.”

Die polisie se soektog na die res van die bende duur voort.

Die toestand van die klant wat tydens die rooftog gewond is, was nie dadelik bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Ek verstaan ook nie hoekom so baie kriminele “wegkom” nie. HOE? Polisielede kan seker hulle seker nie agterna sit nie, te veel van hulle oorgewig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.