Eerste hofsaak teen afsonderingsregulasies aangehoor

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die eerste hofsaak teen die algehele landwye afsondering van 21 dae is die afgelope week aangehoor en wys watter uitwerking regulasies wat vir dié tydperk geld op Suid-Afrikaners se daaglikse lewe het.

ʼn Inwoner van Mbombela, Karel Willem van Heerden, het die hof gister dringend gevra om van Mpumalanga na die Oos-Kaap te reis om sy ma by te staan nadat sy oupa oorlede is. Van Heerden se oupa het in sy huis in Hofmeyr in die Oos-Kaap doodgebrand en moet volgende week begrawe word. Sy aansoek is deur die hoërhof in Mpumalanga van die hand gewys.

Van Heerden sê in stukke voor die hof dat hy nie die huidige reisverbod, wat mense en goedere verbied om van een rampgeteisterde gebied na ʼn ander te beweeg, wil oortree nie.

Hy sê verder dat daar geen risiko is dat hy ander mense met die koronavirus sal besmet nie omdat hy nie in aanraking was met mense wat oorsee was of simptome van die siekte toon nie. Hyself het ook geen simptome dat hy Covid-19 onder lede het nie en sal ook die nodige voorsorgmaatreëls tref om nie die virus te versprei nie.

Argieffoto ter illustasie (Foto: AP)

Van Heerden wys daarop dat familielede nie noodwendig in een provinsie woon nie en dat iemand tydens die begrafnis van ʼn familielid verplig kan wees om tussen provinsies en munisipaliteite te beweeg. “Die regulasies raak nie die geval van ʼn begrafnis in ʼn ander provinsie aan nie en is daarom onbillik, veral in die unieke omstandighede van die huidige aangeleentheid,“ sê Van Heerden in sy beëdigde verklaring.

In sy uitspraak sê waarnemende regter AJ Roelofse dat die huidige noodmaatreëls reeds in volle gang was toe die saak gister op 27 Maart voor hom gedien het. Daarvolgens is landsburgers tot hul primêre wonings beperk, buiten om uitsonderlike redes wat deur die wet beskryf word en dat mense wat nie die beperkings nakom nie aan ʼn strafregtelike oortreding skuldig is. Hulle is daarom aanspreeklik vir óf ʼn boete óf tronkstraf, óf albei.

Die regter beskryf die omstandighede van die aansoek as uiters ontstellend. “Dit wys hoe die ruwe gevolge van die finale sluitingsregulasies ʼn gesin op die ergste manier raak. Ek het die uiterste simpatie met die aansoeker, maar ek moet die wet handhaaf,” sê hy.

Intussen beoog die Hola Bon Renaissance-stigting om dringend direkte toegang tot die Konstitusionele hof te verkry om pres. Cyril Ramaphona en sy adjunk, David Mabusa, te verbied om die algehele landwye afsondering verder toe te pas.

Die Hola Bon Renaissance-stigting (HBR) is ʼn nieregeringsorganisasie wat gestig is om die groei in Afrika-gemeenskappe aan te moedig deur sosio-ekonomiese transformasie en die bou van ʼn samelewing wat selfvolhoubaar is met ʼn sentrale ekonomiese spilpunt.

‘n Verlate hoofweg in Kaapstad Vrydagoggend. Foto: (AP Photo/Nardus Engelbrecht)

Die stigting se leier word nie in die verklaring wat by die hofstukke aangeheg is, genoem nie hoewel die dokument op 25 Maart deur ʼn kommissaris van ede beëdig is. Dit sê onder meer dat “die (Suid-Afrikaanse) nasie bedreig word deur oorlog, insypeling, algemene opstand, wanorde, natuurrampe en ander openbare noodsituasies” en versoek dat die rampbestuur-wetgewing teruggetrek word.

Die hof word ook gevra om ʼn bevel te maak dat Covid-19 en die koronavirus  geen ernstige gevaar vir die land en sy mense inhou nie, omdat daar nie bewyse is dat dit dodeliker as ander bekende virusse en siektes soos malaria, tuberkulose en MIV/vigs is nie.

Die hofstukke verwys na die president se instelling van die landwye 21 dae van afsondering as ʼn oortreding van die Suid-Afrikaanse Grondwet,  magsmisbruik en ʼn oortreding van die Handves van Menseregte. Dit het luidens hofstukke onder meer betrekking tot landsburgers se menswaardigheid, vryheid van beweging, vryheid om handel te dryf, te werk of ʼn beroep te beoefen.

Verder word die hof versoek om ʼn bevel uit te reik dat geld wat vir die Covid-19-programme beskikbaar gestel word aan belangriker en onmiddelliker uitdagings afgestaan moet word wat die land in die gesig staar. Dit sluit in werkloosheid, armoede, misdaad en opvoeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan

Heeltemal korrek die virus is nie meer dodelik as ander bejende siektetoestande nie en oorsee is omtrent almal wat dood is was ouer as tagtig jaar…gaan kyk maar self na die statistiek. En boonop is china weer aan die gang en fabrieke werk weer na al die ou bangmaakstories…go figure

SomeOne

van heerden, sterkte aan jou en familie, ek voel saam met jou dat jou beweging ingeperk word, maar vat dit ook aan die ander kant, indien vir jou toestemming gegee word om jou oupa te gaan begrawe, hoeveel van die ” ander mense” gaan ook rond beweeg, jy weet hulle is almal broers, susters, ooms, tannies, oumas en oupas van mekaar, dan gaan die inperking geen doel dien nie, jammer

4ntj13

Dit lyk sover of die virus 3.5% van mense wat aansteek dood maak. Verder lyk dit of ¾ van die wêreld se bevolking gaan aansteek. Dis 1.7 miljoen Suid-Afrikaners wat noodwendig kan sterf. Dis meer as ons mediese dienste oorval word. Of 130 000 Afrikaners. Wie oorweeg nog om ʼn rol te speel in sóveel sterftes?! Voeg daarby die traak-my-nie-agtigheid wat deel van ons rommelstatus probleem is, en hopelik sal elke bedagsame Suid-Afrikaner hieroor dankbaar by die huis bly vir 3 weke.

Cecil

Ek stem nie saam met regter A J Roelofse nie. Daar is wel baie streng afsonderingsregulasies maar as regter kan hy mos ook n besluit neem. Ek wonder hoe sou hy gevoel het as hy nie sy ma in die moeilike tyd kon ondersteun nie.

Engela

As Karel van Heerden se geval nie as ‘n “uitsonderlike rede” beskou kan word nie dan weet ek nie WAT ‘n uitsonderlike rede is nie!