Effe minder werkloosheid in SA

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Suid-Afrika se werkloosheidskoers het vir ʼn vierde agtereenvolgende kwartaal afgeneem, het amptelike data Dinsdag gewys. Dit is klein bietjie goeie nuus vir die land se sukkelende ekonomie.

Tussen Oktober en Desember 2022 het die werkloosheidskoers met 0,2% afgeneem, in vergelyking met die derde kwartaal, na 32,7% van die arbeidsmag, het Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) gesê.

Die afname volg ná ʼn afname van onderskeidelik 1%, 0,6% en 0,8% in die vorige drie kwartale van die jaar.

Werkloosheid het teen die einde van 2021 op 35,3% gestaan toe daar meer as 7,9 miljoen werkloses was.

Beurtkrag in die land verhinder egter ekonomiese aktiwiteit en kos die land daagliks miljoene rand. Die land is Vrydag ook op die internasionale waghond oor geldwassery en terreurfinansiering, die Financial Action Task Force (FATF), se gevreesde gryslys geplaas. Die land is die afgelope paar jaar toenemend gebruik vir geldwassery en die finansiering van terreurbedrywighede weens ongebreidelde korrupsie en skuiwergate in die land se strafregstelsel.

StatsSA sê 169 000 poste is in die vierde kwartaal bygevoeg, veral in die finansiesbedryf en handel en vervoer. Die toenames was hoofsaaklik in die formele arbeidsektor. Die land se groot informele arbeidsektor het sowat 15 000 werksverliese aangeteken.

“Geen rede om fees te vier nie”

Michael Caro, die DA se skaduminister oor indiensneming en arbeid, sê die DA-geleide Wes-Kaap spog met ʼn kwartaal-op-kwartaal toename van 167 000 poste (ʼn verhoging van 6,9%). “Toenames in ANC-geleide provinsies is óf baie minder óf daar was geen toename nie. Die voortgesette hemelhoë werkloosheidskoers sal nooit getakel kan word tensy die ANC uit die Uniegebou geskop word nie.”

Caro sê vandag se statistieke onthul dat die getal werklose mense in die vierde kwartaal van 2022 met 28 000 toegeneem het tot 7,8 miljoen. Die getal ontmoedigde werksoekers het met 151 000 afgeneem na 3,36 miljoen. “Die amptelike werkloosheidskoers het met 0,2% afgeneem van 32,9% in kwartaal 3 van 2022 na 32,7% in kwartaal 4 van 2022. Volgens die uitgebreide definisie van werkloosheid het die werkloosheidkoers met 0,5% afgeneem na 42,6% in kwartaal 4 van 2022 in vergelyking met die derde kwartaal van dieselfde jaar.”

Caro sê die marginale verbeterings word verwelkom, maar dit is nie ʼn rede tot feesviering nie. “Dit is veral kommerwekkend dat daar, in die vierde kwartaal van 2022, altesaam 10,2 miljoen jongmense tussen 15 en 24 jaar oud was wat nie werksaam is nie, en wat ook nie tans enige opleiding ondergaan nie (sogenaamde NEET’s). Werkloosheid is steeds die grootste bedreiging vir ons maatskaplike welstand en die ANC-regering het nie ʼn idee wat om daaroor te doen nie. Die regering moet eerder fokus op ʼn uitgebreide program vir arbeidsmarkhervorming sodat die privaat sektor ongeskoolde arbeiders in diens kan neem. Nou kondig die minister van indiensneming en arbeid eerder bo-inflasie verhogings vir die minimumloon aan en stel betekenislose komitees aan. Intussen gooi werkloosheid ʼn onheilspellende skadu oor die land.”

Dalende werkloosheid: Realiteit skets ander prentjie

Heloïse Denner, die VF Plus se woordvoerder oor arbeid, voeg by dit is moeilik om te glo dat werkloosheid in Suid-Afrika vir die tweede kwartaal agtereenvolgens afgeneem het. “Die finansiële sektor het klaarblyklik ’n rol hierin gespeel.”

Volgens haar verskil StatsSA se jongste syfers oor werkloosheid wat afneem, wesenlik van dit wat Suid-Afrikaners daagliks self sien en ervaar.

“Die groeiende aantal werkloses op straat en die realiteit van toenemende beurtkrag se vernietigende uitwerking op die ekonomie, getuig eerder van eksponensiële werkloosheid. Daar bestaan die moontlikheid dat seisoenale werkers ’n invloed kan hê op die statistiek, maar hoe groot dit is, is nie seker nie.”

Denner sê wat wel uiters kommerwekkend is, is die feit dat landbou en konstruksie die bedrywe is waar die meeste mense afgelê is.

“Veral die krimpende konstruksiebedryf is aanduidend van ’n krimpende ekonomie en dui op ’n omgewing waar die land se vernietigde infrastruktuur besig is om selfs verder agteruit te gaan.”

Sy meen hoe daar ook al na die werkloosheidsituasie gekyk word, kan dit slegs werklik in perspektief gestel word deur die wêreld se gemiddelde werkloosheidskoers van 6,18% (Statista).

Suid-Afrika se werkloosheidskoers is die hoogste ter wêreld. In die tweede plek is Djiboeti op 28,4%. Somalië is in die twaalfde plek met minder as 20%.

“Hierdie syfers skets die volle omvang van die skrikwekkende verval van die land onder die ANC waar werkloosheid twee keer groter as in Somalië is. Die tyd het aangebreek dat Suid-Afrika se werklose miljoene in 2024 hul stem uitbring en die party verwyder wat hulle tot bedelaars verdoem het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pannies ·

Ek betwyfel ook die syfer, want baie mense het moed opgegee om werk te soek.
Dan is hul per definisie nie werkloos nie.
Die werklike werkloosheidskoers is heelwat hoër.

Leon ·

Statistiek SA julle weet mos julle lieg , daar is meer as 12 miljoen mense in SA werkloos amper 50% van mense wat kan en moet en wil 2erk maar hier is nie n ekonomie nie so hoe kan daar werk wees ???????

Harley Davidson ·

En die statistieke is nou betroubaar en geverifieer deur wie?

Jaco ·

Vreemd dié massa werkloosheid. Met regstellende aksie en BEE all over the show, behoort almal in SA eintlik werk te hê. Die “regte” velkleur is dan al wat tel om werk te kry. Werkloosheid behoort eintlik net op 2 miljoen te staan en behoort almal net die gehate rassistiese wit mense te wees.

Owlie ·

Waar, hoe en deur wie is hierdie darta in gesamel
Sedert 2020 lockdown het bsie besighede toe gemaak qat betrken personeel sitbiewers tuis sonder werk, tussen 2020 en 2023 het loadshedding veroorsaak dat nog besighede toemaak, meer mense nue meer werk het nie en ander wel werk maar minder ure werk wat minder sslarisse betaal Kry n onafhanklike maatskappy om die marknavorsing behoorlik te doen

Pieter du plessis ·

Die ANC regering dal dit nie ondersoek nie…Parlement/politisie is betrokke en hulle is ANC gebroedsels

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.