Egpaar en kie swendel glo miljoene uit Cell C

Michelle Pillay (links) en Khatiya Patel. (Foto: Twitter / @Ambramjee)

ʼn Egpaar sal binnekort saam met hul medebeskuldigdes in die hof verskyn op aanklag van geldwassery en bedrog nadat hulle glo miljoene uit Cell C geswendel het.

Michelle Pillay (37) en Khatiya Patel (42) is die jongste beskuldigdes in die saak en het Woensdag in die Palm Ridge- gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn.

Die vroue is elk op borgtog van R30 000 vrygelaat en sal op 16 Februarie saam met Adriaan Pillay (Michelle se man), Mohamed Ismail Adamjee en hul medebeskuldigdes Manuel Reimaldo Teixeira en Lufono Lesly Nevhutalu in die beskuldigde bank staan.

Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, sê die saak is vir die openbaarmaking van die dossier uitgestel.

“Daar word beweer dat Adriaan Pillay (38), ʼn direkteur by die IT-maatskappy Techno Genius, en sy sakevennoot Mohamed Ismail Adamjee (44), wat destyds ’n bestuurder by Cell C was, tussen 2012 en 2019 saamgespan het om tariewe vir IT- en netwerkdienste aan Cell C buitensporig te verhoog. Cell C het gevolglik ʼn verlies van meer as R130 miljoen gely.”

Die mans is onderskeidelik in Januarie en April verlede jaar in hegtenis geneem en op borgtog van R50 000 vrygelaat.

Volgens Mulamu het ʼn verdere ondersoek onthul dat Patel ook na bewering saamgespan het om tariewe te verhoog terwyl sy in dieselfde tydperk as ʼn administrateur by Techno Genius gewerk het.

Michelle het glo sowat R3 miljoen in haar bankrekening ontvang as opbrengs van die misdaad.

Die Valke het Michelle Dinsdag by haar huis in Sandton in hegtenis geneem terwyl Patel haarself Woensdag aan die polisie oorgegee het.

“Die ondersoek duur voort en verdere inhegtenisneming kan nie uitgesluit word nie,” sê Mulamu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Waarnemer ·

Hulle het die toets geslaag om in die huidige regering te dien….

Misky ·

Daai geldjie het nie eens ‘n duik in Cell C se sakke gemaak nie.

Gerhardus ·

Swendel Cell C uit Miljoene en uit op R30 000 en die mans op R50 000 borg? Dis mos belaglik!

Hansie slim ·

Wie is aan die stuur van CellC? Die manne of vroue wat die diefstal gemis het? Dit het oor jare plaasgevind en niemand kom agter nie!! Dan het hulle seker maar ook geskep!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.