Eienaar van insleepdiens sterf by ongelukstoneel

(Foto: IPSS Medical Rescue/Facebook)

Die eienaar van ʼn insleepdiens is Saterdag op die N2 naby Ballito dood nadat hy na ʼn ongelukstoneel ontbied en deur ʼn ander motor getref is.

IPSS Medical Resuce sê daar was Saterdagaand oproepe dat ʼn voertuig in ʼn ongeluk betrokke was. Met nooddienste se aankoms op die toneel was dit egter duidelik dat daar nog ʼn botsing tussen ʼn ander voertuig en ʼn insleepvoertuig plaasgevind het.

Nooddienspersoneel het ondersoek ingestel na die voorval en gesien dat ʼn insittende van die aanvanklike ongeluk kritieke beserings opgedoen het.

“Die tweede ongeluk het egter tot gevolg gehad dat die bestuurder van ʼn insleepvoertuig noodlottige beserings opgedoen het,” sê IPSS.

(Foto: IPSS Medical Rescue/Facebook)

“Die man is op die toneel dood verklaar.”

Volgens die nooddiens het die bestuurder wat in die botsing met die insleepvoertuig was van die toneel gevlug.

“Ons meegevoel gaan uit aan die vriende en familie van die oorledene,” sê IPSS.

“Nooddienste werk dikwels hand aan hand met insleepvoertuie op ongelukstonele, so hierdie voorval tref IPSS hard.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur, maar wag nog op terugvoer oor die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.