Entstof-aktivis dreig eks glo

Schalk van der Merwe (Foto: Facebook)

Die man wat saam met sy vrou daarvan beskuldig word dat hulle ʼn lys van mense het wat hulle wil laat vermoor, het glo dreigende e-posse aan sy eksvrou gestuur wat “ernstige kommer wek”.

Schalk en Leoni van der Merwe is Donderdag op borgtog van R5 000 elk in die Pretoria-Noord‑landdroshof vrygelaat. Schalk het net voor die uitspraak in die hof siek geword en was merkbaar bleek terwyl die landdros sy uitspraak gelewer het.

Die egpaar was langer as ’n week in aanhouding nadat hulle op aanklagte van sameswering om moord te pleeg in hegtenis geneem is. Die egpaar word daarvan beskuldig dat hulle ’n sogenaamde moordlys opgestel het van mense waarop hulle sluipmoordaanvalle beplan het. Die egpaar hou vol dat hul inhegtenisneming deel is van ʼn smeerveldtog teen hulle. Dit is ook nog nie bevestig of die sogenaamde moordlys bestaan nie.

Staatsaanklaer adv. Tinus Buchling het Donderdag in die hof gesê die staat staan borgtog teen, “veral wat Schalk betref”.

Schalk het ’n hangende saak teen hom wat tans voor die Pretoria‑landdroshof dien. Hierin staan hy tereg op aanklagte van aanranding en die kwaadwillige beskadiging van eiendom (’n selfoon). Schalk, ’n menseregteaktivis wat ook regsadvies gee, is die direkteur van ’n konsultasie-onderneming en was die afgelope jaar veral in die nuus oor sy stryd teen verpligte inenting in die werkplek.

Die ondersoekbeampte Leon Botha, het in sy verklaring aangevoer dat Schalk nie ’n vlugrisiko inhou nie, maar wel ’n gevaar vir die samelewing is.

Botha het voorts verwys na e-posse tussen Schalk en sy voormalige vrou wat volgens hom “ernstige kommer wek”. Schalk het glo in die e-posse van 2018 en 2019 verskeie dreigemente teenoor die ma van sy kinders gemaak.

Dié e-posse is na bewering tydens ’n toesigstryd gestuur.

Schalk van der Merwe en sy vrou, Leoni, is Donderdag borgtog van R5000 elk toegestaan (Foto: Tania Heyns, Maroela Media)

Die dreigemente lui onder meer dat Schalk “een doel voor oë het” en dat dit is om sy eksvrou “van die planeet te vee” en dat hy die “hekke van hel” sal oopmaak sou sy probeer om sy kinders van hom te weerhou.

Dreigemente is ook glo gedurende die toesigstryd aan ’n prokureur gemaak.

Adv. Schalk Swanepoel, vir die verdediging, het egter op sy beurt gesê die staat stel duidelik nie belang in die meriete van die saak nie en sal na enige rede soek om te sorg dat Schalk borgtog geweier word. Die verdediging het onder meer beswaar aangeteken dat Schalk se eksvrou se verklaring nie aan die hof voorgelees is nie aangesien dit “meer duidelikheid” sou verskaf.

“Ons almal weet dat dit nie all smiles in die kinderhof is nie. Dit beteken egter nié dat die betrokke partye mekaar wil verwoes of vermoor nie,” sê Swanepoel.

Hy het ook daarop gesinspeel dat veranderinge moontlik aan die bewoording van die e-posse aangebring en aangestuur kon word, aangesien die e-posse wat voor die hof dien, nie oorspronklike e-posse is nie, maar eerder aangestuurde e-posse.

Volgens die verdediging is daar boonop geen skriftelike bewyse van dreigemente wat die egpaar teen Lottering gemaak het nie.

“Dit is my argument dat borgtog nie geweier moet word nie,” het Swanepoel gesê.

Die Van der Merwes moet op 6 April weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Misky ·

Tyd sal leer en die waarheid het altyd ‘n manier om uit te kom. Ek glo egter nie die aantygings teen hom nie. Sterkte Schalk en Leoni.

Piet Snot ·

Ek kan na 30 jaar se praktiseer steeds nie verstaan waarom polisie mense in hegtenis kan neem slegs op sterkte van ‘n ongetoetste bewering wat waar of vals kan wees nie.
In hierdie geval is daar glo nog nie eens sekerheid oor die bestaan vd moordlys, al dan nie.

Casper ·

Hierdie klink vir my na ‘n swartsmeer veldtog wat beide partye teen mekaar smee.As ek wil ent kan niemand my keer nie.Ek twyfel sterk of daar so ‘n moordlys bestaan.

Sarie ·

Niemand word gekeer. Die wat geforseer word, word ondersteun

Perdeby ·

En die bewyse van die eposse is seker net opgemaak en is vals???

Nie Verbaas ·

Soos met Dr Bekker sal die staat enige patetiese poging aanwend om waarheid te verdoesel. Pateties.

AndrewL ·

Die twee het heeltemal te ver gegaan. Hul meng in by besighede waarmee hul niks uit te waai het nie en dit onder valse voorwendsels soos by ons.

Dit is een ding om ‘n ajtivis te wees, maar toetaal iets anders wanneer daar met die arbeidsake ingemeng word.

Janine ·

Hofgevegte oor kinders is nooit rose en maanskyn nie. Veral nie gegewe dat ons howe omtrent elke keer die vrou se kant vat nie. Ek lees gereeld van pa’s wat moet baklei om hul kinders te sien, maande lank geen kommunikasie of kuiers het nie. Party vrouens gebruik dit as ‘n stok om te slaan, instede van hul kinders se belange in ag te neem.

melaney ·

Janine, so jammer ek kan net eenkeer jou kommentaar ‘like’

Swerwer ·

Kan geen rede sien waarom 2 partye nie vreedsaam uit mekaar kan gaan nie. Wat se nut is daar om vuil wasgoed in die openbaar te was? ‘n Soort bevrediging? As 2 nie oor die wegkom nie, breek op en gaan ten minste op goeie voet uit mekaar, hou op om alles en almal om jou te wil vervietig omdat jy nie jou sin gekry het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.