Eskom sê oor afleggings

(Argieffoto)

“Eskom wil lede van die publiek gerusstel dat daar geen planne is om werknemers af te lê, ongeag hul geslag of ras nie.”

Só het die kragvoorsiener Vrydag gesê in reaksie op berigte dat hy teen 2025 van nog 500 wit mans, wat hoofsaaklik vir onderhoudswerk verantwoordelik is, ontslae wil raak. Dit is glo volgens Eskom se jongste diensbillikheidsplan vir 2023 tot 2025.

Solidariteit het Donderdag ʼn regsbrief aan Eskom gerig waarin hy vra vir ʼn moratorium op rasgebaseerde aanstellings by Eskom as ʼn manier om die kragkrisis te help oplos.

Afleggings in Suid-Afrika word gereguleer deur artikel 189 (3) van die Wet op Arbeidsverhoudinge van 1995, met streng vereistes vir toepaslike konsultasies met al die relevante belanghebbendes, insluitend die erkende vakbonde. Hierdie konsultasies moet duidelik die redes en voorwaardes waaronder afleggings toegelaat kan word, uitstippel.

“Diskriminasie gegrond op ras of geslag kwalifiseer nie as maatstaf vir die aflegging van werknemers nie,” sê Eskom.

Volgens Eskom is hy tans besig met interne samesprekings oor diensbillikheid met vakbonde, wat onder meer poog om inligting vir korrektheid te verifieer, insette oor teikens te versoek en die vereiste regstellendeaksiemaatreëls te bespreek.

“Soos per konsultasieproses word alle partye die geleentheid gebied om alternatiewe te betrek, uit te klaar en voor te stel voordat finale besluite geneem word.”

Eskom meen dit is “opportunisties en onprofessioneel” van Solidariteit, of enige party wat deel is van die vertroulike interne konsultasieproses, om “onnodige paniek en vrees te veroorsaak, asook sensasie onder personeel en in die media te skep voordat die interne proses afgehandel is”.

Eskom sê sy transformasie-agenda en indiensnemingspraktyke word gelei deur sy waardes, operasionele vereistes en die land se arbeidswette eerder as ras.

“Ons is toegewyd om diversiteit, gelykheid en insluiting op ʼn verantwoordelike en volhoubare wyse te bereik. Eskom erken die kommer van alle Suid-Afrikaners oor die huidige energiekrisis. Ons het maatreëls ingestel om die kritieke vaardighede wat nodig is om elke aanleg te verbeter, te versterk. Soos Eskom gereeld gekommunikeer het, sluit dit onder meer in die werwing van afgetrede voormalige werknemers en ander kundiges met spesialisvaardighede wat die potensiaal het om die energiekrisis te help oplos. Dit is Suid-Afrikaners van alle kleure en geslagte.”

Maroela Media het vroeër berig in Solidariteit se regsbrief wys hy daarop dat daar ʼn dringende behoefte in Suid-Afrika is dat mense met net die beste vaardighede, ongeag die ras van dié kundiges, in poste aangestel moet word. Solidariteit sê daar is bekwame swart en wit ambagslui by Eskom en elders en Eskom moet hulle werf op grond van hul vermoë om die kragkrisis te help oplos sonder om na die kleur van hul vel te kyk.

Die brief meld ook dat Solidariteit hom die reg voorbehou om hof toe te gaan indien Eskom met die toepassing van sy rasseteikens voortgaan.

Die VF Plus het ook ʼn ultimatum aan die raad van Eskom gestel om gegewe die heersende energiekrisis sy gelyke indiensnameplan te wysig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.