FAK-vakansieplaas langs Vaalrivier ontruim

Udolpho Rivierplaas. (Foto: Facebook)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Udolpho Rivierplaas, sy vakansieplaas aan die Vaalrivier, Saterdag te midde van swaar en aanhoudende reën ontruim.

“Die veiligheid van ons gaste en die personeel van die FAK en Udolpho Rivierplaas is topprioriteit,” het Marné Scholtz, woordvoerder van die FAK, gesê.

“Die bestuurders by Udolpho het die watervlak oor die laaste paar dae dopgehou en Saterdag besluit dat ons nie die lewens van ons gaste en personeel in gevaar wil stel nie.”

Personeel by Udolpho het gaste by die verskeie punte van veiligheid bymekaar laat kom. Die organisasie sê hy het ook met boere in die omgewing in verbinding getree om vas te stel of daar enige ondersteuning verleen moet word.

“Op hierdie stadium vloei die rivier geweldig sterk,” het Petre Theron, bestuurder van Udolpho Rivierplaas, gesê.

Twaalf van die Vaaldam se sluise is oor die naweek oopgemaak. (Foto: Eugene Lottering)

“Ons tree tans proaktief op deur ons gaste te waarsku, in verbinding te tree met die gemeenskap in die omgewing en deur sandsakke te pak.”

Volgens Theron is die rivier in vloed, hoewel die situasie tans onder beheer is.

“Niemand se lewe is in gevaar nie.”

Theron sê daar gaan na verwagting nog ʼn 250 mm tot 300 mm styging in die watervlak plaasvind, wat vermoedelik darem nie na die kampterrein sal oorvloei nie.

Pont de Vaal-landgoed onder water (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig dat 12 sluise van die Vaaldam teen Saterdagmiddag ten volle oop was om die watervlakke in dié oorvol dam te beheer.

Dit is die eerste keer sedert 2011 dat 12 sluise oopgemaak is. Met verlede jaar se reën is agt sluise oopgemaak.

Die Vaaldam is tans 112,1% vol. Strate in Parys was Saterdagoggend reeds onder water soos die Vaalrivier begin opstoot het. Enkele brûe is ook oorspoel en verskeie vakansieoorde en lodges is toe weens die stygende vlak van die rivier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.