Familielid vas ná moord op afgetrede polisieman

Argieffoto (Foto: Pixabay)

ʼn Familielid van ʼn vermoorde polisieman is die afgelope naweek in hegtenis geneem nadat twee beweerde huurmoordenaars met ʼn bebloede motor betrap is.

Die bloed was glo dié van die polisieman wat hulle kwansuis namens die familielid moes vermoor.

Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes is Vrydag om 14:00 na ʼn vulstasie by Eshowe in KwaZulu-Natal ontbied. Met hul aankoms het die beamptes twee mans by ʼn motor aangetref. Hulle was glo besig om bloed in ʼn motor skoon te maak.

“Nadat die mans ondervra is, het dit aan die lig gekom dat hulle gehuur is om Sibusiso Mbonambi (62) dood te maak,” sê Gwala.

Mbonambi was ʼn afgetrede adjudant-offisier wat by die Eshowe-polisiestasie gewerk het.

Die mans is in hegtenis geneem, terwyl beamptes tevergeefs deur die nag na Mbonambi se liggaam gesoek het. Sy liggaam is vroeg Saterdagoggend in bosse in die Melmoth-omgewing gevind.

“Die voormalige polisieman het verskeie skietwonde aan sy bolyf opgedoen.”

Ná verdere ondersoek het die polisie nog twee verdagtes in Eshowe in hegtenis geneem. Een van die verdagtes is glo ʼn familielid van die vermoorde, terwyl die ander een ʼn voormalige werknemer van ʼn plaaslike radiostasie is.

“Die verdagtes het na bewering die polisieman doodgemaak vir geld wat binnekort deur verskeie polisse uitbetaal sou word,” sê Gwala.

Die vier verdagtes, tussen die ouderdomme van 28 en 38 jaar oud, sal na verwagting Maandag in die Melmoth-landdroshof verskyn op aanklagte van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Wat is fout met “our people”? Dis nou kort kort in die nuus dat van hulle iemand huur om te moor vir polis geld? Hulle het geen respek vir iemand se lewe nie, wreed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.