Feestyd: Risiko’s, vetjies en babas

Daar is ʼn risiko om ʼn hartaanval te kry op Oukersaand, veral vir ouer en sieker mense, weens hoër emosionele stres. Dieselfde geld vir Nuwejaarsdag.

Dit is volgens navorsing wat in die Kersuitgawe van die vakjoernaal die BMJ verskyn het. Die navorsing wat oor ʼn tydperk van 16 jaar in Swede gedoen is, het getoon die grootste risiko vir ʼn hartaanval, wat met verhoogde emosie te doen het, is by verre op Oukersaand.

Dié risiko is die hoogste vir mense wat ouer as 75 jaar is, en vir diegene met diabetes en hartsiekte. Mense kan ook woede, angs, hartseer en gevoelens van verlies in die feestyd ervaar, en daar is voorheen al bewys dit kan bydra tot ʼn hartaanval.

Al vier mense fees op Oujaarsaand, is die grootste risiko vir ʼn hartaanval die volgende dag, waarskynlik wees die simptome van te veel drankgebruik, volgens die studie.

Luidens nog ʼn studie, wat ook in die Kersuitgawe van die vakjoernaal BMJ gepubliseer is, tel mense jaarliks gemiddeld tussen 0,4 kg en 1 kg gewig op. Die meeste hiervan word egter aangesit tussen Kersfees en Nuwejaar en ʼn mens raak eintlik nooit weer daarvan ontslae nie. Ná 10 jaar kan jy dus aansienlik swaarder wees as voorheen.

ʼn Volwassene kan op Kersdag, of Oukersaand, soveel as 6 000 kalorieë inkry, vergeleke met die 2 000 wat jy behoort te eet en drink, volgens ʼn studie wat die Nasionale Instituut vir Gesondheidnavorsing in Brittanje gedoen het.

Foto: Pixabay

Deur net te fokus op wat, en hoeveel, ʼn mens eet en drink, om kleiner porsies in te skep, elke dag te gaan stap, die etikette van produkte te lees en vrugte en groente te eet, het deelnemers aan ʼn studie daarin geslaag om geen of tot ʼn halwe kilogram minder tydens die feestyd op te tel, vergeleke met die kontrolegroep wat nié die raad gevolg het nie.

Suiker is die grootste sondaar. Dit word by talle produkte bygevoeg, sonder dat ʼn mens dalk daarvan bewus is. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat ʼn mens nie meer as 30 g suiker per dag gebruik nie. Die meeste mense kry egter 60 g of meer suiker per dag in.

Een sny Kerskoek kan 30 g suiker bevat en ʼn Kerspasteitjie 22 g.

Braaisous en tamatiesous het ook baie suiker in, so ook baie vrugtesappe, gaskoeldrank, energie- en sportdrankies, granola en ander ontbytpap, geblikte vrugte, sop en sousboontjies, soja- en amandelmelk en konfyt. Wees ook versigtig vir laevetprodukte, dit het baie suiker in. Die meeste suiker wat mense ingekry is deur dié produkte, en deur koekies en sjokolade, eerder as suiker wat by koffie of tee of kos gevoeg word.

Volgens die vakjoernaal Vet Record kry honde tydens Kersfees vier keer meer sjokolade in, vergeleke met Paastyd. Selfs die kleinste stukkie sjokolade is giftig vir honde.

Sjokolade bevat teobromien, ʼn stimulant wat soortgelyk aan kaffeïen is. By honde kan dit braking, ’n verhoogde hartklop, agitasie en epileptiese aanvalle veroorsaak.

Argieffoto: Pixabay

Dit is ook waar dat daar meer babas in September gebore word in lande waar Kersfees gevier word en Nuwejaar op 1 Januarie erken word. ʼn Groep kenners wou uitvind of dit biologie of kultuur is. Hulle het na data gekyk van 130 lande op Google van 2004 tot 2014 en dié werk gepubliseer in die vakjoernaal Scientific Reports.

Tydens groot kultuur- en godsdienstige feeste was daar ʼn aansienlik groter belangstelling in seks, en dit het op die internet en Twitter gewys. Die navorsing is gedoen met ʼn tegniek bekend as “sentiment analise” en dit het gewys mense het kollektief meer ontspanne gevoel, en meer tyd gehad, veral oor die feestyd. Die resultaat is meer geboortes nege maande later.

Mense se reproduktiewe gedrag pas aan by die gevoel van die oomblik, emosie en hul kultuur.

Dalk is Septemberbabas ook eintlik Kersbabas.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.