Fonds vir kleinsakeondernemings gesluit weens stroom aansoeke

Johann Rupert (Foto: Argief)

Aansoeke vir die Sukuma-fonds, ’n inisiatief om klein- en mediumsakeondernemings finansieel ten tyde van die Covid-19-pandemie te ondersteun, is Maandagaand gesluit. Dit volg nadat die beskikbare kapitaal van die fonds van R1 miljard, wat deur die Rupert-gesin bewillig is, oorskry is.

Binne drie dae nadat die aanlyn aansoeke vir dié fonds geopen het, is 10 000 aansoeke van enkelsakeondernemings, beslote korporasies, maatskappye en trusts ontvang.

Maroela Media het vroeër berig die Rupert-gesin en Remgro het ’n skenking van R1 miljard gemaak wat deur die finansieringsmaatskappy Business Partners geadministreer word. Die Sukuma-fonds is deur Business Partners gestig om só sakeondernemings wat in die knyp is met dié geld te bereik.

Ben Bierman, besturende direkteur van Business Partners, het gesê die maatskappy was genoop om die aansoeke Maandagaand te sluit, nadat die waarde van die aansoeke reeds drie keer meer as die beskikbare kapitaal van die fonds was.

Volgens Bierman beloop die waarde van die aansoeke wat alreeds ontvang is, meer as R2,8 miljard.

“Die groot aantal aansoeke wat die afgelope naweek en nog Maandag ingestroom het, is weer eens ’n aanduiding van die geweldige impak wat dié virus en die landwye afsondering op die land se kleinsakeondernemings het,” het Bierman gesê.

Bierman sê hulle sal die volgende sewe dae gebruik om die aansoeke deur te gaan en dan terugvoer aan die aansoekers te gee. “As ons bevind dat nog kapitaal beskikbaar is, hetsy omdat sommige van die aansoekers nie geverifieer en goedgekeur is nie, of omdat ons daarin geslaag het om addisionele kapitaal te bekom, sal ons weer die program vir aansoeke open,” sê Bierman.

Bierman doen ook ’n beroep op groot ondernemings en korporasies om bydraes tot die Sukuma-fonds te maak ten einde sukkelende kleinsake-eienaars te help.

“Kleinsakeondernemings is die lewensaar van die ekonomie en hulle het nou meer as ooit finansiële hulp nodig. Dit is nou die tyd om betrokke te raak en mekaar te ondersteun.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

PieterP ·

Een biljoen Rand gedeel deur 10 000 aansoeke. Julle wil reken dat elke klein besigheid dus R100 000 kan kry? Ag twak man!!!

Michael 1 ·

Dit is die omvang van die probleem en die ekonoom Dawie Roodt bly dit sê maar met n onbevoegde regering soos die wat nie eers n ordentlike tuis begroting kan opstel en beheer nie maak my teorie van n onafhanklike tuistaat vir almal meer sin by die dag.

jou gewete ·

hoop werklik hulle plaas ook n ras beperking op die fonds sodat die ondernemings wat die regering uitsluit ook gehelp kan word maar dit sal natuurlik mos rassisties wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.