Forum soek meer seggenskap oor polisie in Wes-Kaap

Die organisasie Kaapse Forum het hom tot die Konstitusionele Hof gewend om te verseker dat Wes-Kapenaars in die toekoms meer seggenskap in die bestuur van die polisiediens in die provinsie kry. (Foto: Alan Winde/Twitter)

Die organisasie Kaapse Forum het hom tot die Konstitusionele Hof gewend om te verseker dat Wes-Kapenaars in die toekoms meer seggenskap in die bestuur van die polisiediens in die provinsie kry. Die organisasie vra dat dit by wyse van ’n provinsiale referendum moet geskied.

“Ons glo, as ’n organisasie wat ons beywer vir die afwenteling van staatsmagte na doeltreffende provinsies, dat inwoners geken moet word in die bestuur van dienste wat hulle daaglikse lewe raak,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum.

Die organisasie sê polisiëring is ’n veels te belangrike kwessie om slegs oorgelaat te word aan die provinsiale en nasionale regerende partye – wat gedurig met mekaar daaroor koppe stamp.

“Intussen sterf onskuldige mense steeds daagliks aan die hand van bendes, plaasaanvallers, moordenaars en rowers, terwyl vroue en meisies vrees vir verkragters en mans wat hulle in bekende omgewings onveilig laat voel.

“Dit is die gevolg daarvan dat hulle nie te alle tye kan staatmaak op die beskerming wat die Handves van Regte aan hulle belowe nie,” sê Wyngaard.

Kaapse Forum sê die toekenning van polisiehulpbronne vanaf nasionale vlak aan die provinsie, soos die aantal lede wat by polisiekantore ontplooi word, speel ook ’n rol. Hiermee saam is dit vir die organisasie problematies dat aanstellings in senior poste gedoen word met kandidate wat minder gekwalifiseerd is as plaaslike kandidate, of nie die meerderheidstaal van die provinsie magtig is nie.

Die organisasie het Vrydag sy aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien.

Dit berus op artikel 127(2)(f) van die Grondwet wat aan ’n premier die mag en verantwoordelikheid gee om referendums in die provinsie te kan hou “in ooreenstemming met nasionale wetgewing”.

Kaapse Forum het reeds vroeër ’n beroep op die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gedoen om ’n referendum te hou waardeur Wes-Kapenaars se steun getoets kan word vir die afwenteling van polisiemagte na die provinsie.

“Die premier het egter regsadvies ingewin dat geen wetgewing tans bestaan wat premiers in staat stel om die vereiste regulasies uit te vaardig ten einde ’n referendum af te kondig nie. Andersins moet die Wet op Referendums aangepas of vervang word om premiers behoorlik met die taak te bemagtig,” sê Wyngaard.

Heindrich Wyngaard (Foto: Verskaf)

“Kaapse Forum glo wel die Wet op Referendums van 1993 is die tersaaklike wetgewing, maar dat dit inderdaad kortkom wat betref uitdruklike magte aan premiers om regulasies te promulgeer vir sodanige referendums. Dit is dus ’n belemmering in die uitvoering van artikel 127 van die Grondwet.”

Hierdie situasie beteken een van twee dinge: Óf geen voldoende wetgewing bestaan wat premiers toelaat om referendums te hou nie óf, indien dit wel bestaan in die vorm van die Wet op Referendums, skiet dit tekort wat betref die nodige magte vir premiers om regulasies uit te vaardig.

In albei gevalle kom dit daarop neer dat die parlement in sy taak gefaal het om die nodige wetgewing daarvoor in te stel.

Kaapse Forum vra die hof:

  • Om ’n bevinding te maak dat, in soverre as wat die Wet op Referendums wel uitvoering gee aan artikel 127 van die Grondwet, dit onvolledig is en dat die parlement misluk het in sy rol om die volledige vereiste wetgewing in te stel.
  • Alternatiewelik, indien die hof meen dat die wetgewing wel die tersaaklike wetgewing is, versoek die organisasie dat dit as ongrondwetlik verklaar word omdat dit nie premiers volledig toerus met magte om provinsiale referendums te promulgeer nie.
  • Derdens, indien die hof nie van mening is dat die Wet op Referendums die tersaaklike wet is om uitvoering aan artikel 127 te gee nie, vra Kaapse Forum dat die hof bevind dat die parlement nie sy grondwetlike verpligting uitgevoer het om die vereiste wetgewing deur te voer nie.

Die respondente in die saak is die president, die premier van die Wes-Kaap, die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, die speaker van die parlement, die verkiesingskommissie en die minister van binnelandse sake.

“Ons is oortuig dat sukses met hierdie aansoek die weg sal baan vir Wes-Kapenaars en inwoners van ander provinsies om grondwetlik bemagtig te word met seggenskap oor hoe hulle regeer word. In die geval van die Wes-Kaap, waar die meerderheid kiesers téén die nasionale regerende party stem, word die inwoners nogtans verplig om besluite deur die sentralistiese nasionale regering te aanvaar wat dikwels strydig is met die keuses wat hulle in verkiesings uitoefen,” sê Wyngaard.

“Ons maak staat op inwoners, ander enersdenkende burgerlike organisasies en ook politieke partye se ondersteuning vir ons aansoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Ek wonder hoeveel van die Kaapse forum se lede is polisie lede en hoeveel is bende lede want bendegeweld begin eerstens op gemeenskapsvlak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.