Fossielbrandstowwe nie antwoord vir SA se kragkrisis

(Argieffoto: Werner Beukes/SAPA)

Kommer heers opnuut oor die regering se hernude uitsprake dat hy die opsie wil ondersoek om fossielbrandstowwe te ontgin. Dit is omdat die proses ontsettend afhanklik is van water en fossielbrandstowwe boonop nie as oplossing vir Suid-Afrika se kragkrisis beskou word nie.

“Suid-Afrika is waterskaars en baie mense in die Karoo is afhanklik van grondwater. Die kommer oor die uitwerking van skaliegasontginning op waterbronne is geregverdig omdat die proses baie water kan gebruik en Suid-Afrika se skaars waterbronne kan besoedel,” sê dr. Surina Esterhuyse, ʼn senior dosent aan die Sentrum vir Omgewingsbestuur by die Universiteit van die Vrystaat.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het verlede maand gevra vir voorstelle vir die insameling van seismiese data aan die Suid-Afrikaanse kus en in die binneland.

Esterhuyse sê seismiese opnames is een van die eerste stappe wat gedoen word om te bepaal of skaliegas ekonomies ontginbaar is en verskeie studies moet gedoen word voor hidrobreking kan plaasvind.

Verskeie drukgroepe sê egter indien Suid-Afrika werklik ernstig daaroor is om die ontginning en verbruik van fossielbrandstowwe te verminder in ʼn oorgang tot hernubare energiebronne, is die regering se nuutste poging om voort te gaan met hidrobreking in ʼn soeke na skaliegas as brandstofalternatief, “misleidend en kommerwekkend”.

Prof. Bob Scholes, een van die land se voorste klimaatwetenskaplikes, het voorverlede jaar gewaarsku dat ʼn reusebelegging in infrastruktuur, regulatoriese vermoëns, moniteringsinstellings en put-ontwikkeling – vir ʼn hulpbron wat dalk nie eens bestaan nie – ʼn finansiële, politieke en omgewingsrisiko sou wees. Hy het ook gewaarsku dat die gevaar wat hidrobreking vir Suid-Afrika se waterhulpbronne inhou, die grootste bron van kommer is.

Waterbronne reeds onder druk

‘n Hidrobrekingsdam in Texas in die VSA. Wêreldwyd is daar groeiende teenkanting teen die gebruik van fossielbrandstowwe. (Foto: Paul Ratje/AFP)

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van die Treasure Karoo Action Group (TKAG), sê tot op hede is daar geen akkurate skatting beskikbaar vir die grootte van die potensiële reserwe in die Karoo-kom nie. Dit is ook algemeen bekend dat reserweskattings uiteindelik ’n fraksie van die aanvanklike geëiste bedrae blyk te wees. Sodra eksplorasie begin en gas teëgekom word, is dit hoogs onwaarskynlik dat die regering die proses sal stop oor omgewingskwessies.

Scholes het ook gesê studies dui daarop dat dit hoogs onwaarskynlik is dat ekonomies en tegnies volhoubare gas in die Karoo gevind sal word – en dat realistiese skattings dit, gemeet aan internasionale standaarde, as ʼn uiters klein hulpbron posisioneer.

Janse Rabie, hoof van regs- en beleidsake by Agri SA, sê ook was dit nie vir die ongelooflike risiko’s wat met hidrobreking gepaard gaan nie, sou dit waarskynlik as ʼn deel van die oplossing van Suid-Afrika se kragkrisis gesien kon word. Water ís egter ʼn besonder skaars hulpbron in Suid-Afrika – en skaliegasontginning en -produksie het enorme hoeveelhede daarvan nodig.

Esterhuyse sê ongeveer 15 megaliter water is nodig om hidrobreking in een boorgat te doen. Volgens ʼn studie van die WNNR wat in 2020 gedoen is, is byna 90% van die land se beskikbare water egter reeds toegewys en daar is nie genoeg water in Suid-Afrika om volhoubare skaliegasontwikkeling te doen nie.

Skaliegas, wat ʼn fossielbrandstof is, is nie hernubaar nie en wetenskaplikes weet ook nie of die Suid-Afrikaanse skaliegas-afsettings ekonomies ontginbaar is nie. (Argieffoto: Treasure Karoo Action Group)

Groot hoeveelhede afvalwater word ook geproduseer. In ʼn staat soos Ohio in die VSA word afvalwater in diep, ou olieboorgate onder die grond ingepomp – maar dit het al tot verskeie aardbewings gelei, sê Esterhuyse.

“Die afvalwater kan ook behandel en hergebruik word, of in waterbronne vrygelaat word. Hidrobreking-afvalwater is egter dikwels giftig en radioaktief en enige radioaktiewe afval wat oorbly ná behandeling moet in hoërisiko-stortingsterreine geberg word.”

Esterhuyse sê Suid-Afrika het nie watersuiweringsaanlegte wat hierdie soort water kan skoonmaak nie en die land se hoërisiko-stortingsterreine het beperkte kapasiteit.

Die regering het in 2016 ʼn strategiese omgewingsimpakstudie oor skaliegas laat doen en ʼn groep van 146 Suid-Afrikaanse wetenskaplikes was daarby betrokke. Esterhuyse sê hulle het bevind Suid-Afrika het nie genoeg water vir volhoubare skaliegasontginning nie.

Skaliegas, wat ʼn fossielbrandstof is, is nie hernubaar nie en wetenskaplikes weet ook nie of die Suid-Afrikaanse skaliegas-afsettings ekonomies ontginbaar is nie.

Rabie sê dit is onduidelik waarom die regering, en Mantashe, voortgaan met planne hiervoor. “Dit maak nie vir ons sin dat hy vasgehaak het op hidrobreking en skaliegasontwikkeling nie. Daar is ʼn toondoofheid wat vir ons onverklaarbaar is.”

Groeiende teenkanting teen fossielbrandstowwe

(Argieffoto: pixabay)

Deal waarsku dat die minister en die regering op die punt van ʼn “onomkeerbare besluit” staan.

“Sodra hierdie proses begin, sal dit byna onmoontlik wees om die skade ongedaan te maak of die daaropvolgende geskarrel vir fossielbrandstowwe op ons land te beheer. Dit is eenvoudig nie die risiko werd nie.”

Boonop is daar enorme openbare teenkanting teen skaliegasontginning deur hidrobreking.

“Die tyd vir fossielbrandstowwe is besig om tot ʼn einde te kom; COP 27 het dit bewys,” sê Rabie.

“Die regering moet met meer sinvolle alternatiewe vorendag kom. Suid-Afrika het die geleentheid om ʼn wêreldleier oor alternatiewe opwekking te wees. Waarom is die minister dus so toondoof daarvoor?”

Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewing, het in November ook gesê dat Suid-Afrika gas as ʼn brandstofalternatief op die pad na ʼn laekoolstofekonomie kan beskou.

Deal sê egter die olie- en gasbedryf het ʼn pertinente rol gespeel in die skep van die narratief oor gas as ’n “brandstofalternatief” of ’n “oorgangsenergiebron” na ’n laekoolstoftoekoms om die afhanklikheid van fossielbrandstowwe te verleng – maar dit is nie die geval nie.

“Die ironie is dat min. Creecy se opmerkings gemaak is teen die agtergrond van COP 27 en die gesprekke oor belegging in skoon energie vir Suid-Afrika om teen 2050 na ’n netto-nul-koolstofekonomie oor te skakel.”

Ook Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van omgewingsake, sê die omgewing- en gesondheidsuitwerking van fossielbrandstofontginning is goed bekend en dit is “onverantwoordelik van die regering om die eksplorasie en ontginning van bykomende fossielbrandstofreserwes na te jaag”.

Dit is veral só omdat steenkool nog geruime tyd deel van Suid-Afrika se energiemengsel gaan bly.

TKAG en AfriForum sê ook die sekerheid van omgewingskade, die uitwerking op openbare gesondheid en die agteruitgang van landbougrond kan nie afgemaak word nie.

“Die tegniese aspekte om gas te vind, dit te ontgin sonder om water, lug en gewasse te besoedel en die vlugtige materiaal deur pypleidings, of op Suid-Afrikaanse paaie of spoorweë te beweeg, is haas onmoontlik vir ’n regering wat nie die lewering van selfs die mees basiese dienste kan bestuur nie,” sê die organisasies.

Wat is hidrobreking vir skaliegasontginning?
“Hidrobreking word gebruik om gas wat in skalielae vasgevang is, te bevry. Dit word gedoen deur ʼn diep vertikale boorgat te boor tot in die skalielaag en dan vanuit die vertikale boorgat, horisontale gate in die skalielaag te boor.

“Dan word ʼn mengsel van water, chemikalieë en sand, wat brekingsvloeistof of ‘fracking fluid’ genoem word, onder hoë druk in die skalielaag ingepomp. Dit veroorsaak mikrokrake in die skalielaag wat die gas laat ontsnap.

“Die gas vloei dan saam met die brekingsvloeistof terug na die oppervlak waar dit geskei word sodat die gas vir byvoorbeeld energieopwekking gebruik kan word.”

Dr. Surina Esterhuyse

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Dit lyk my sy verstand is net so kort as wat hy lank is.Eers kragskepe toe werk dit nie nou skaliegas wat ook nie gaan werk nie wat is volgende op sy lys om sy beurse dikker te maak,beslis nie koerantpapier nie..

Lillian ·

Iemand gaan weer geld maak huieruit, dis hoekom die regering aanhou karring. Ek vir een ondersteun Shell jare nie meer nie.

annie ·

Mantashe is ‘n voorbok om Cyril in sy pos te hou want die oom se planne lê opgestapel op sy lessenaar oor hoe om die land aan die brand te steek vir meer lig om nog planne op te kan trek. Sou CR waai is dit ook vir hom en al die stokou kaders koebaai.

Neestemmer ·

Sonpanele is wonderlik om jou huis krag te gee vir die wat dit kan bekostig, MAAR, jy kan ‘n land se industrie en kragnetwerk daarmee bedryf nie, dis eenvoudig te swak en het bitter baie plek nodig in vergelyking met ‘n kragstasie en dis nie konstant nie, daarom kan alternatiewe energie nooit “base load” verskaf nie. Steenkool is overal in SA bekostigbaar en goedkoop as dit nie deur die ANC mafia bestuur word nie, en dan is die heel beste opsie met die minste besoedeling , kernkrag. Frankryk het dit bewys met al hulle kernkragstasies.

Boertjieman ·

SA is waterarm en energie verarm, en die karoo is NIE landbou grond nie en die regering kan nie vertrou word met enige iets nie. Ek wantrou meeste sogenaamde deskundigges en die oomblik wat ek die titel “prof” of “Dr” sien raak ek skrikkerig vir wat dan uit die persoon gaan kom wat raad aan betref, want “geld wat stom is maak reguit wat krom is” nè! Almal sê wat hulle betaal word om te sê.
Eks van mening die skaliegas ding moet ondersoek word om te sien wat dit moontlik kan oplewer. Skaliegasontginning word suksesvol in heelwat lande gedoen en ek glo ons sal ook kan. Wigte en teenwugte moet oorweeg word!
Ons as SA het energie nodig en het water nodig en moet werksgeleenthede skep. Daar moet balaans geskep word! Hierdie berig van Maroela media is baie eensydig om die minste te sê! Dit is die plig van media om geballanseerde artikels te plaas anders is dit duidelik daar is alternatiewe bedoelings. Hierdie berig blyk een van daai twyfelagtigges te wees en dus sal ek neutraal bly!

Republikein in die Wes Kaap ·

Hulle kan skaliegas ontgin, solank dit net 500 km van my woonplek is.

Rupert Ashford ·

Hoewel ek nie baie kommentaar lewer hier nie, stem ek meestal saam met jou kommentare. Maar: Sal jy tevrede wees met ‘n son en ‘n windplaas reg langs jou huis, en om net krag te kry wanneer die son skyn en/of die wind waai? En onthou daar is ‘n ongeveer drievoudige verskil tussen “name plate” en ware kapasiteit van wind en son, wat beteken as jy se 100MW se krag wil opwek, moet jy omtrent 300MW name plate van hierdie twee bronne bou wat ekstra geld, ekstra bronne (die goed word nie van die gas wat uit die agterstewe van Unicorns kom gebou nie) en ekstra spasie verg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.