Kyk: Chaos in Johannesburg weens vloede

(Foto: Johannesburg Roads Agency, Facebook)

Chaos het Vrydagoggend in die westelike en suidelike dele van Johannesburg geheers weens oorstromings en kitsvloede. Dit is weens swaar reën- en donderbuie wat al sedert Maandag in die provinsie uitsak.

Die Stad Johannesburg het ’n waarskuwing teen die oorstromings uitgereik en hul rampbestuur- en noodspanne op ’n hoë gereedheidsgrondslag geplaas.

Inwoners het op sosiale media foto’s en video’s van die verwoesting gedeel, wat veroorsaak is deur sterk winde en swaar reën wat die stad getref het.

Paaie en brûe het oorstroom en infrastruktuur is beskadig, motors deur die water meegesleur en bome ontwortel.

Bus onder water

Verskeie passasiers is omstreeks 06:30 uit ’n sinkende bus in Orlando, Soweto, gered.

Volgens Kyle van Reenen, woordvoerder van die ambulansdiens Emer-G-Med, het hulle ’n oproep van ’n vrouepassasier op die bus ontvang.

“Sy het verduidelik dat die bus in ’n onbekende gebied in stortreën vasgeval het en besig is om te sink. Omdat sy paniekbevange was, kon sy nie die bus se presiese ligging verskaf nie,” sê Van Reenen.

Die noodbeampte het haar versoek om ’n GPS-ligging deur middel van WhatsApp te stuur, waarna verskeie nooddienste uit na die toneel is.

“Die noodbeampte het heeltyd met die vrou gepraat en probeer kalm hou. Sy is gerusgestel dat hulp op pad is.”

Reddingsdienste het ’n gespesialiseerde reddingsoperasie uitgevoer, waartydens al die bus se passasiers – amper 60 – gered is.

Kragonderbrekings

City Power sê die oorstromings het kragonderbrekings in verskillende dele van die stad veroorsaak, wat moontlik eers oor ’n week heeltemal herstel sal kan word. Die onderbrekings is veroorsaak deur onder meer bome wat op kraginfrastruktuur geval en kragstasiekamers en kragpale wat oorstroom het.

Die kragvoorsiener het teen Vrydagoggend sowat 4 000 oproepe oor kragonderbrekings ontvang, waarvan die helfte van die kragonderbrekings (wat aangemeld is) die afgelope 24 uur plaasgevind het.

Gebiede soos Hurthill, Randburg, Roodepoort en Lenasia is die ergste deur die kragonderbrekings geraak.

Boonop het ’n minisubstasie in Peacockweg in Lenasia ontplof, wat dié gebied in die donker gelaat het.

Herstelwerk aan infrastruktuur sal eers kan begin sodra die water gesak het. Oorstroomde paaie veroorsaak ook dat die herstelspanne nie so vinnig op die herstelwerk kan reageer nie.

“Ons verwag dat herstelwerk ons meer as ’n week sal neem – as die weer dit toelaat,” sê City Power.

“Ons herstelpogings word ook gekelder deur beurtkrag, wat werklik ’n groot tol op ons infrastruktuur, hulpbronne en inkomste geëis het.

“Ons het alle beskikbare hulpbronne ingespan om agterstande wat deur beurtkrag en storms veroorsaak word, te hanteer, en ons doen ’n beroep op ons kliënte vir geduld en samewerking terwyl ons die uitdagings hanteer en minimale onderbrekings in hul kragtoevoer verseker.”

Maroela Media het vroeër berig die water het Vrydagoggend soos riviere in Rustenburg, Noordwes, se strate gevloei ná sowat 125 mm reënval binne ’n uur geval het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sandra ·

Ek kry die mense wat daardeur geraak is bitter jammer, net jammer ook dat die infrastrukstuur nie in stand gehou was nie, wat die skade sou kon beperk het. Ons hier in die Moederstad is baie gelukkiger met ‘n span mense wat regstaan om te help…

Koen ·

As jy dink skoon pype sou daardie massas water weglei, moet jy weer diep gaan dink.

Samuel ·

Dit is absoluut tragies, skrikwekkend, tog nou is die geleentheid vir die DA om hulle liggies te laat skyn.

Suzette ·

Kan daar nie net 10% van dai reën PE toe gaan nie….
Baie sad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.