Foto’s: Gebruik van Musina-hof ‘te gevaarlik’

Die Musina-landdroshof in Limpopo is gesluit aangesien die gebruik van dié gebou onder meer weens strukturele probleme as “te gevaarlik” bestempel is. (Foto: Verskaf)

Die Musina-landdroshof in Limpopo het Dinsdag sy deure onbepaald gesluit, aangesien die gebruik van dié gebou onder meer weens strukturele probleme as “te gevaarlik” bestempel is.

Alle verhore en bedrywighede by dié hof word intussen onbepaald uitgestel.

’n Kennisgewing wat na afloop van ’n inspeksie Maandag deur die departement van arbeid uitgereik is, dui aan dat die gebou die gevaar loop om inmekaar te stort. Dit kan gevolglik tot lewensverlies of beserings lei. Die kennisgewing deur die departement dui aan dat oop kragbokse en beskadigde kragkabels ’n verdere veiligheidsrisiko inhou.

Die Musina-landdroshof in Limpopo is gesluit aangesien die gebruik van dié gebou onder meer weens strukturele probleme as “te gevaarlik” bestempel is. (Foto: Verskaf)

Mishack Matsi, direkteur-generaal van die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling, het Dinsdag ’n amptelike skrywe oor die besluit aan alle regspraktisyns in Limpopo uitgereik.

Matsi kon egter nie aan Maroela Media bevestig wanneer die hof weer sal oop wees nie.

“Solank as wat die gebou in die toestand is waarin ek dit gister gevind het, sal dit gesluit bly.”

Matsi wou hom nie oor gevolglike logistieke uitdagings uitlaat nie en sê dat die veiligheid van mense by die werksplek sy prioriteit is.

Die Musina-landdroshof in Limpopo is gesluit aangesien die gebruik van dié gebou onder meer weens strukturele probleme as “te gevaarlik” bestempel is. (Foto: Verskaf)

’n Hofbeampte, wat verkies om anoniem te bly, sê die feit dat alle verhore onbepaald uitgestel word, veroorsaak ’n reuseagterstand en hou vele koste-implikasies vir die staat in.

“Hier vind gewoonlik daagliks tussen ses en agt verhore plaas, wat nou uitgestel moet word. Slegs enkele persone word op die perseel toegelaat en ons gebruik tans die stoep om administratiewe en logistieke probleme uit te sorteer en reëlings te tref.

“Alles moet vandag ook met die hand geskryf word, aangesien ons tans geen tegnologiese hoftoerusting tot ons beskikking het nie.”

Die Musina-landdroshof in Limpopo is gesluit aangesien die gebruik van dié gebou onder meer weens strukturele probleme as “te gevaarlik” bestempel is. (Foto: Verskaf)

Die beampte sê die owerhede sloer nou al meer as twee jaar om probleme met die gebou se veiligheid aan te spreek.

“’n Kontrakteur is sowat drie jaar gelede aangestel om verskeie strukturele probleme te takel. Die projek is egter nooit afgehandel nie en dit het die strukturele integriteit van die gebou nog verder in gedrang gebring.

“Slote wat tydens die projek gegrawe is staan ook nog net so en daar is geen wilskrag om onderhoud aan die gebou te doen nie.”

Volgens die beampte voel werknemers al lank onveilig en was daar gereeld klagtes.

Die onveilige struktuur is ook nie al wat pla nie. Volgens die beampte is daar net een werkende toilet in die hele hofgebou en die lugverkoeling werk ook nie. “Daarom is dit veral in die somer baie moeilik om jou werk te verrig, aangesien temperature in Musina tot 47 grade kan klim. Ons sukkel ook geweldig met telefoonnetwerke wat buite werking is.”

Die beampte sê werknemers het in dié stadium geen idee wanneer die gebou weer sal oopmaak en of die hof moontlik na ’n nuwe perseel sal skuif nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dirk ·

Ja,vorige bedeling het jy glad plekke gekry wat so gelyk het nie.Alles was netjies en skoon gewees..

JohanR ·

Is daar niks in die land wat nie in mekaar val nie? En die ministers ry nog hulle R700000 karre!

Tiptol ·

Wag tot iets uitmekaar val en haal dan miljoene uit om ‘n nuwe plek te bou ipv onderhoud soos dit nodig is.

SjN ·

Die rede is n gebrek aan instandhouding en onderhoud, viva Ancircus.

Misky ·

Hierdie tipe berigte het jy nie 30 jaar terug gesien of hoor van nie. Dit sê alles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.