Foto’s: Groot skole sardiens maak opwagting

(Foto: KwaZulu-Natalse Haaieraad)

Die KwaZulu-Natalse Haaieraad het Donderdagoggend gesê daar was die afgelope paar dae ʼn aansienlike toename in sardienaktiwiteit tussen Bazely en Amanzimtoti.

Intussen is enige swemmery tussen Isipingo en Port Edward vanoggend weens die verhoogde sardienbeweging daar verbied.

“Gisteroggend was daar vanaf eerste lig berigte van skole sardiens wat sowat ʼn kilometer van die kuslyn na die oppervlak begin styg het. Die aktiwiteit strek sowat vyf kilometer tussen Umdonipunt en Kelso,” het Greg Thompson, waarnemende operasionele hoof van die Haaieraad, gesê.

Vanoggend is sardienaktiwiteit tot by Port Edward aangemeld en sardiens is by Hibberdene met nette gevang.

“Daar was verskeie onsuksesvolle netvangpogings by Pennington, Scottburgh, Illovo en Winkle, terwyl daar twee bevestigde netvangste by Amanzimtoti was,” het Thompson gesê.

Verskeie haaie, talle malgasse en in ʼn stadium selfs geelvintuna, is naby die skole opgemerk.

Gistermiddag, net voor sononder, was daar skole sardiens agter die breeklyn van die branders by Scottburgh en vandag gaan dus hopelik ʼn besige sardiendag wees, het Thompson gesê. “Onthou, die visse is baie onvoorspelbaar en kan sommer oornag verdwyn.”

Elke jaar, in Junie en Julie, maak groot skole sardiens hulle opwagting langs die KwaZulu-Natalse kus. Dit lei tot koorsagtige vangpogings, nie net deur haaie, roofvisse, seesoogdiere en voëls nie, maar ook deur mense wat op die strande toesak om ʼn vissie in die hande te kry.

Die Haaieraad sê die sardientjieloop is ʼn jaarlikse verskynsel van groot skole sardiens wat in die wintermaande tot in die warm water van suidelike KwaZulu-Natal swem. Hoewel die meeste van Suid-Afrika se sardiens in die koeler Kaapse water voorkom, swem ʼn betreklik klein groep jaarliks na die Wildekus.

Dit is onduidelik watter voordeel die sardiens kry deur tot in KwaZulu-Natal se water te beweeg. Die plaaslike water is nie so ryk aan kos soos dié van die Kaap nie en om sake vir die sardiens te vererger, word hulle vergesel van talle roofdiere wat onder hulle aas, sê die Haaieraad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanL ·

Pieter, ek twyfel. Laat weet asb Lesufi van die skole sardiens – hy sal vinnig ondersoek instel in watse taal hulle kommunikeer :) :)

Kol ·

Mis ek Toti nou baie, n awesome tyd van die jaar.
Bly nou in die buiteland en verlang!

Rudolph van Wyk ·

Kan ons die diere van die veld, die voëls van die lug en die visse van die see nie maar net met vrede laat? Hoekom dink ons dis ons uitverkore rol om byna elke onskuldige dier wat op aarde voorkom of in ‘n hok te plaas en daardeur te mishandel of wreedardig dood te maak vir ons smaak of vermaak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.