ʼn Man is Woensdagmiddag van ʼn kranswand in Durban gered danksy ʼn gesamentlike poging van verskeie nooddienste.
Garrith Jamieson, bedryfsdirekteur van Rescue Care, het gesê alle rolspelers, waaronder Rescue Care, die polisie se soek-en-reddingseenheid en IPSS Rescue, is net ná 15:00 na die Reservoir Hills-steengroef ontbied.
“Met hul aankoms het paramedici bevind dat hulle ʼn reddingsboot nodig sou hê om by die pasiënt uit te kom. Paramedikus Paul Herbst het na die pasiënt geswem om hom te evalueer terwyl die polisie op pad was,” het hy gesê.
Nog paramedici en reddingswerkers is kort daarna met ʼn boot na die man geneem om hom te behandel en op te laai.
Die man het ernstige beserings opgedoen is en deur IPSS en Rescue Care behandel. Hy is met ʼn Air Mercy mediese helikopter na ʼn hospitaal geneem.
Dit is nog onseker hoe die man geval het. Die polisie ondersoek die voorval.