Fotos: Noordwes-boere op knieë oor brande

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

Wegholveldbrande wat al byna drie dae in die Amalia- en Vryburg-omgewing in Noordwes woed, het boere op hul knieë.

Die brand het Sondag in die omgewing uitgebreek en boere het teen Woensdagoggend nog gespook om die brand te blus. Veevrektes is ook aangemeld en die vlamme het infrastruktuur verswelg.

“Daar is niks oor nie. Ons mense is moeg en moedeloos. Ons bid vir ons boere wat met die hande in die hare sit. Duisende gebede gaan uit. Ons glo daar sal hulp en uitkoms wees,” skryf Jolandi Muller op die Amalia-dorpsgroep op Facebook.

Volgens Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, het ongeveer 45 000 ha weiding reeds afgebrand. Dit is na raming R2,9 miljard skade.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

“Altesaam 368 000 ha weiding het die afgelope ses weke afgebrand. Met die brande wat nog kan uitbreek, verwag ons maklik om meer as ʼn halfmiljoen ha weiding te verloor. Dit is 5% van die totale oppervlakte van die provinsie,” sê Du Toit.

Volgens Du Toit is die boere op hulself aangewese, met min of geen hulp van die staat nie, om die brande in bedwang te bring.

“Die plaaslike munisipaliteite behoort nie eens aan die brandbeskermingsvereniging, soos wetlik vereis word nie. Die sambreel-brandbeskermingsverenigings in die landelike gemeenskappe bestaan hoofsaaklik uit boere.”

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

Die pad tussen Vryburg en Schweizer-Reneke is tans weens die brande gesluit.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het Dinsdag rampreaksiespanne na die brandtoneel ontplooi om die diere in nood te help.

“Op pad na die toneel het hul span inspekteurs ʼn trop beeste gevind wat tussen die vlamme en ʼn heining vasgevang was. Gelukkig het die span daarin geslaag om die heinings te sny en die beeste na veiligheid te lei,” sê die NDBV.

“Die NDBV is toegewyd om seker te maak geen dier word agtergelaat nie. Ons werk onverpoos om alle diere te red.”

Die DBV in Mafikeng en Kimberley het ook hulp verleen.

Waar sal hulp vandaan kom?

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

Agri SA sê die verwoestende uitwerking van voortdurende branduitbrekings in die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap sal nog lank nadat die brande geblus is, gevoel word.

“Veldbrande kan groot skade aan plante, diere en gemeenskappe veroorsaak en ook voedselsekerheid bedreig. In reaksie op die vernietiging van plantegroei is noodreaksiepogings nodig om boere met voer by te staan. Die skade aan grondgesondheid, die ontwrigting van ekosisteme en die verandering van natuurlike brandpatrone kan langdurige gevolge hê,” sê Christo van der Rheede, uittredende uitvoerende direkteur van Agri SA.

“Die herstelproses is grootliks afhanklik van reënval. Voldoende reënval is van sleutelbelang vir die herlewing van plantegroei, die herstel van grondvrugbaarheid en die aanvulling van waterbronne. Met voldoende reën kan die herstelproses aansienlik bespoedig word.”

Volgens Van der Rheede het hierdie verwoestende brande die landbousektor getref in ʼn tyd waarin boere reeds geweldige uitdagings trotseer, waaronder beurtkrag, verswakkende infrastruktuur, stygende arbeid- en insetkoste, en bedreigings vir hul landelike veiligheid.

“Weens al hierdie uitdagings is boere tans aanspreeklik vir ʼn geraamde R205 miljard skuld – ʼn hoë las wat veroorsaak dat diegene wat deur die brande geraak word nie hierdie jongste tragedie kan absorbeer nie. Vir ons nasie se voedselsekerheid behoort dit almal te bekommer.

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

“Agri SA sal voortgaan om elke poging aan te wend om hierdie boere te help om te herstel. Terselfdertyd doen ons ʼn beroep op lede van die publiek om ons te help om verligting te bied aan hierdie gemeenskappe wat ons voedselsekerheid waarborg.

Agri SA se Ramphulpstigting skenk geld aan Vrystaat Landbou en Agri Noordwes om te help met die noodledigingspoging vir die landbousektor.

“Skenkers wat tot hierdie saak bydra, kom in aanmerking vir ʼn artikel 18(A)-sertifikaat. Die geld wat ingesamel word, sal aangewend word vir die verkryging van veevoer en vervoeruitgawes. Elke skenking, hoe klein ook al, kan ʼn beduidende invloed hê op die lewensbestaan van die boere en plaaswerkers wat deur die vernietigende brande geraak is.”

Skenkings kan hier gemaak word.

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

(Foto: Jolandi Muller/Amalia dorp 2/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JohanR ·

En dan kom die ANC, EFF, taxi kombinasie vanaand en val ‘n boer iewers aan!

Manie ·

Dis nog nie donderweer tyd in daardie streek nie, so wat kon dit veroorsaak het? Ek hoop die somerreën kom spoedig, want dit sal die veld gou herstel.

John ·

Ons ook in Noord Wes. In ons geval is die brande die laaste paar weke gestig gewees. (inligting wat vanaf die plaaslike nedersetting kom)

Mellissa ·

Ons is tussen Vryburg en Kuruman (Lykso) en het so twee weke terug die hele naweek vuur geslaan daar is omtrent 30000Ha wat gebrand het..en dit was aspris gestig deur mense wat niks beter het om tedoen nie…

Harley Davidson ·

Die brande is dit agv natuurlike oorsake of brandstigting?

cobus ·

Sekerlik een van die moeilikste werke om te doen om n boer te wees. En dit sonder regeringshulp soos ander lande, en dan moet ons boere nog me hulle kompeteer in die ope mark. Ek salueer ons boere!!

MARELIZE ·

Dis wanneer ek hierdie berigte lees, en oningeligtes se kommentare op ander landbouberigte oor hoe boere so ryk is, maklik geld het, swak produkte bied, ens … wat ek as boervrou opstandig raak.

Sal ‘n salaristrekker ooit verstaan hoe ‘n boerdery, se beplanning, begroting werk en uiteindelik deur so een enkele gebeurtenis totaal omvergegooi word? Hoe jare se opgaar en spaar, bid en wsrk in ‘n oogwink wegraak? Ek dink nie so nie.

Misky ·

Baie ware woorde Marelize en sterkte aan julle as boere in vandag se tyd.

Nommer 7 ·

‘n Salaristrekker gaan in die oggend werk toe, en vannaand is hy/sy werkloos. Niemand gaan hom/haar help nie. ‘n Boer het nogsteeds bates van miljoene der miljoene rand, al brand die plaas af. Dit wat die boer produseer, kan in elk geval goedkoper ingevoer word.

Kuver ·

Regtig!!!, jy weet sowaar nie waarvan jy praat nie, miskien moet jy jou by n boer aansluit en jou skoon handjies bietjie gaan vuil maak……maar nou weer mense wat so nonsens praat soos jy sal tebang wees vir bietjie harde werk

Nommer 7 ·

Ek was al saam met ‘n boer in ‘n R6 miljoen lugversorde stroper vir ‘n hele dag. Nie my of die boer se hande het vuil geraak nie!

Papsak ·

N veld kan nie net so aan die brand raak nie en die lente is ook nog nie so warm dat dit velde kan laat brand nie asb hierdie brande is gestig uit en oor hulle wil alles swart om hulle he en ja boere moet skade aan gedoen word dit is dit klaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.